ToekomsVenster: Gebreek vir ons gebrokenheid


all-free-download.com

all-free-download.com

Lukas 22: Toe neem Hy brood, spreek die dankgebed uit, breek dit en gee dit vir hulle met die woorde: “Dit is my liggaam wat vir julle gegee word. Gebruik dit tot my gedagtenis.

Sy liggaam is letterlik gebreek om heling te bring.

Die beeld waaraan ek dink as ek lees van hierdie gebrokenheid, is om te dink aan ’n wond of seerplek. Jy maak tog eers die wond oop en skoon, want die wond is veroorsaak deurdat jou vel of vleis gebreek is. Ons maak die wond skoon en sit verbande om die seer. As dit skoon is dan plak ons ’n pleister op.

God se sterwe aan die kruis maak die wonde oop, skoon en dan plak Hy ’n pleister op. Hy bring genesing. Hy gee homself, Sy liggaam, om genesing te bring. Ek word vergewe van dit wat ek verkeerd doen of gedoen het, ek kan gesond word omdat Hy gebreek is vir my gesondheid. Ek doen sonde en is ’n sondaar en Christus wat gesterf het, Sy liggaam wat gebreek is, maak dat my sonde vergewe word sodat ek as gesonde mens kan leef.

Hierdie gebrokenheid van Christus maak dat gebrokenes mekaar in hulle gebrokenheid kan ontmoet. Ek kan jou in my gebrokenheid help om heling te vind. Wanneer ek begin om na jou uit te reik, na jou gebrokenheid, vind daar vir my in Christus heling plaas. Ek help en reik uit na ander, nie uit my volmaaktheid nie, maar uit my gebrokenheid en wanneer ek dit doen, vind daar vir myself heling plaas.

Gebed:

U is gebreek vir ons. Wanneer ons brood eet onthou ons dat U liggaam soos brood gebreek is om ons gesond te maak. Laat ons nooit vergeet dat U die brood van die lewe is en wanneer ek van daardie brood geëet het ek nooit weer honger sal wees nie. Amen.

Leefwyse:

Vier saam nagmaal.

Iets om vandag oor na te dink:

Kry ’n groep om saam met jou brood te bak. Terwyl julle brood bak gesels oor alles en nog wat. Lei die gesprek om ook oor geloofservarings te gesels. Sluit die gesprek af deur julle varsgebakte brood aan mekaar te gee en saam te eet. Lees dan weer hierdie teks en herinner mekaar daaraan dat Christus die brood van die lewe is en dat Hy gebreek is sodat ons kan leef.

ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.