ToekomsVenster: Gebruik jou gawes


hande-in-gebed

Argieffoto.

Hy is immers die hoof, en uit Hom groei die hele liggaam. Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam ‘n eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde. –  Ef 4:15,16:

Verder gaan dit soos met ‘n man wat op reis wou gaan. Hy het sy slawe bymekaargeroep en sy besittings aan hulle toevertrou. Vir een het hy vyf goue muntstukke gegee, vir ‘n ander twee, en vir ‘n derde een. Hy het aan elkeen volgens sy bekwaamheid gegee en toe op reis gegaan. – Matt 25:14,15:

Baie gemeenteleiers praat van die 80/20 beginsel. Dit beteken dat 20% van die gemeente 80% van die werk in die gemeente doen, terwyl 80% slegs 20% daarvan doen. Dit het amper ’n algemene reël geword. Dis hoekom lidmate oorlaai word en uiteindelik uitbrand. As hulle gewillig lyk, word hulle vir alles ingespan.

Dis nie hoe ’n gemeente behoort te werk nie. Bely jy dat Jesus die Here is? Maak jy daarop aanspraak dat jy die Gees van God ontvang het? Paulus maak dit duidelik dat jy dan in diens van die gemeente staan (Ef 4:7,16; 1 Kor 12:7,27).

Uit die Nuwe Testament word dit dit duidelik dat elkeen wat die genade van God ontvang het, die gawes wat hy of sy van God ontvang móét gebruik. Jesus verwys in een van sy gelykenisse na mense wat volgens hulle bekwaamheid meer as ander ontvang het. Die gelykenis verwys na God se mense wat as rentmeesters aangestel is in die tyd voor Jesus se wederkoms. Waarmee hou ons ons besig? Ons dien ons Heer met die gawes wat Hy gee. Van hierdie mense wat gawes ontvang het, het iets daarmee gedoen en is daarvoor beloon. Ander het niks daarmee gedoen nie, omdat hulle nie God se genade verstaan het nie. Hulle het selfs die gawe wat hulle ontvang het, verloor. Hoekom? Omdat hulle nie besef het dat hulle uiteindelik aan die Gewer van die gawes verantwoording moet doen nie.

Die Gees bou die liggaam op. Die hoof van hierdie liggaam is Jesus Christus. Elkeen wat onder beheer van hierdie Hoof staan, wat bely dat Jesus die Here is, wat die Gees van God ontvang het, reageer op die opdragte van die Hoof.

Soms werk sommige mense in die gemeente hulleself tot ’n stilstand, omdat sommige ander lui is. Dis ’n simptoom van siekte. Immers, as die brein seine na die liggaam stuur en dit nie reageer nie, is daar fout. As die beheertoring opdragte aan die vlieënier gee en hy reageer nie, is dit nie die vliegtuig of die beheertoring se skuld nie.

God gebruik mense soos jy om die liggaam van Christus op te bou. Hy rus ons toe. As ons begin verstaan dat alles oor die liggaam van Christus gaan en nie oor ons nie, sal ons begin om ons rol in die gemeente te speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.