ToekomsVenster: Geduldig en lankmoedig


heart-791870_1280.jpg

Argieffoto (Foto: Karolina Grabowska, Pixabay)

Kom ons bekyk nog ’n paar eienskappe van die liefde en stel onsself oop vir God se Gees om ons te help om te word wat ons weet.

Die liefde is geduldig en vriendelik… – 1 Korintiërs 13:4

God is liefde en daarom getuig Sy kommunikasie met ons deur die eeue heen van hoe spesiaal ons vir Hom is. Grootpratery en grootdoenerigheid sal jy nooit by ons God vind nie. Daarom speel Hy ook nooit Sy gawes en vermoëns af teen ons onvermoë nie. Inteendeel, Hy nooi ons heeltyd uit om deel te kry aan wie Hy is en wat Hy vir ons bied: Hý wat die heelal in Sy Hand hou, het ’n spesiale plekkie op Sy handpalm gereserveer waar Hy jou naam kon graveer. Terwyl 7 biljoen mense op aarde met al hul sonde en gebreke ’n ondenkbare aanspraak op God maak, laat Hy nie toe dat een van jou hare op die grond val sonder Sy medewete nie.

Dit is altyd vir my aangrypend as ’n groot sterk man, wat ’n stoute kind met brute krag kan platvee, liefdevol afbuig om ’n spartelende, woedende tweejarige reg te help. God wat onmeetlike outoriteit en mag het, vou ons in Sy liefde toe selfs wanneer ons die fout van ’n leeftyd maak en vra dat ons ook so teenoor ander sal optree.

Toewydingsoomblik
Vra jouself af:
• Is ek bereid dat die Heilige Gees vir my wys hoe my hart regtig lyk?
• Is ek bereid om iemand wat teen my oortree het nog ’n kans te gee?
• Verwag ek ’n teenprestasie van iemand vir wie ek ’n tweede kans gegee het of is ek bereid om steeds goed te wees vir die persoon?
• Is ek bereid om jaloesie en grootpraterigheid te bely en daarmee klaar te maak sodra ek daarvan bewus word?

Gebed
Here, help my! Omvorm my om soos U lief te hê.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.