ToekomsVenster: Gee Hom ’n kans

(Foto: @deviyahya/Unsplash.)

Joh. 12:24-26 – Dít verseker Ek julle: As ‘n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy ‘n groot oes in. Wie sy lewe bo My liefhet, verloor dit; en wie sy lewe in hierdie wêreld nie bo My liefhet nie, sal dit vir die ewige lewe behou. As iemand My wil dien, moet hy My volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees. As iemand My dien, sal die Vader hom eer.

Jesus gebruik metafore of simboliese taal op ʼn meesterlike wyse. Simboliese taal praat somtyds sterker en duideliker as ʼn ding reguit sê. Dit is seker omdat metafore soveel betekenis het as dit reg gekies en aangewend word.

Jesus sukkel nie om die regte metafoor vir die regte saak in te span nie. Koringkorrels was vir die nabye oosterse mense baie bekend. Post-moderne mense kan ook meestal daarmee identifiseer. Soos ander is ʼn koringkorrel ʼn saad. In kleuterskool het juffrou al vir die kinders gewys hoedat saadjies in die grond geplant word en dan ʼn paar dae later as ʼn spruitjie sy verskyning maak. Van die indrukwekkende proses wat onder die grond plaasvind het kinders nie veel begryp nie. Ons egter is groot mense. Ons weet dat wat gesaai word en wat uitgroei twee verskillende gestaltes van dieselfde saak is. Die essensie is steeds daar maar die vergestaling verskil duidelik en aangrypend.

Die saadjie is maar onaantreklik op sy eie. Dit is ook gering en is duidelik nie ʼn hele oes nie. Dat in daardie saadjie ʼn oes opgesluit is, is vir die geloofsoog gereserveer. Die saadjie gee onder die grond sy identiteit prys ten einde geboorte te skenk aan iets wat heerliker, aantrekliker en belowender is as wat gesaai is.

As die saadjie halsstarrig vashou aan sy identiteit, vergaan dit onder die grond. As dit eers met die kluite gemeng is kan jy dit nie eers opspoor nie. Dit is net wanneer die saadjie tot prysgawe gereed gemaak is dat ʼn buitegewone proses plaasvind. Sommige sade verskaf selfs die substansie wat die nuwe wat te voorskyn kom voed, totdat dit sterk genoeg is om self uit die grond te haal wat dit nodig het.

Essensieel moet die saad bereid wees om te sterf. Indien nie, bly dit een. Indien wel, word dit ʼn groot oes.

Die verdere verse is ʼn konkretisering van die simbool wat deur Jesus gebruik word.

Om vas te klou aan jou identiteit en sekuriteit beteken in elk geval gedwonge prysgawe aan die einde. Om egter prys te gee, te laat gaan wat in elk geval nie aan jou behoort nie, kom in heerlikheid na jou terug.

Hoe lyk dit met hierdie prysgawe in jou lewe? Klou jy nog verbete vas omdat jy twyfel dat God goeie bedoelings met jou het? Gee Hom ʼn kans. Hy sal jou nie teleurstel nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.