Gee tog aandag aan my hulpgeroep, my Koning en my God, want tot U bid ek. – Psalms 5:3
Gebed is steeds die kragtigste wapen, daar word gereeld in die Bybel hieroor geskryf:
- As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid.
- Bid en vir julle sal gegee word.
- Die gebed van ʼn regverdige het groot krag.
- Bid sonder op hou.
- Elia was ʼn mens soos ons en hy het gebid dat dit nie sou reën nie.
Ons wapens is nie van die wêreld nie, maar is van die Gees. Dit is kragtig en word as skerper as ʼn tweesnydende swaard beskrywe. Dit dring deur tot in die geheime plekkies van elke mens se lewe.
Dit dring deur tot in die raadsale van die wêreld waar planne beraam word om ander skade te berokken. Dit dring deur binne die vier mure van ʼn knielende seun en digter van God wat smeek vir vrede.
Ek sluit hierdie week se gedagtes oor die konflik in die Oekraïne af met die woorde van die bekende lied van Jannie du Toit, mag dit die gebed van ons harte wees in ʼn tyd soos hierdie:
Gee ons vrede
Jannie Du Toit
As ek
Voor Hom kon staan
Dan sou ek dringend dit wou vra
Heer, laat ons nie maar net begaan nie
Gryp in
In die verloop
Is daar nog hoop?
As Hy
Hier sou staan
Sou ek wanhopig hard wou uitskreeu
Waarom word daar na soveel eeue
Nog steeds gestry, nog steeds gely
As ons
Voor Hom kon staan
Sou Hy dan doof bly vir gebede
Wat smeek sedert die tuin van Eden
Gee ons vrede, gee ons vrede
Dona nobis pacem pacem
- ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za