ToekomsVenster: Geel vetkousies en weeskindertjies

Goegap, Namakwaland (Foto: Carina Stander)

“Vra die Here vir reën in die lente en Hy sal dit gee. Hy maak onweerswolke wat stortreën laat val sodat elke veld lowergroen word.” – Sagaria 10:1 (NLV)

Ons vier die lente, alhoewel dit volgens sommige die verkeerde datum is, op 1 September.

Astronomies gesien is die datum eerder 23 September, maar dit daar gelaat.

Lente en blomme is sinoniem, en blomme en Namakwaland is sinoniem. Hoe beny ek mense wat naby die blomme woon. Skaars 90 minute se ry van Kaapstad en jy bevind jou in die Weskus Nasionale Park, waar die blomme in die rigting van die son pronk.

Ek lees ʼn paar name van die blomme raak, en dit is die oulikste name ooit. Ek wonder of jy met een van hierdie name kan identifiseer; so amper asof dit ietsie van jou menswees sê.

Dis die wilde aster, die satynblom, feëklokkies en geel hongerblomme. Dan ook die Namakwalandse Daisies en die pienk aandblom, viooltjies, die kapperblommetjies, die pietsnot, die varkiesknol. Daar is verder ook geel vetkousies, duikerwortels, weeskindertjies en geel aandblommetjies. Boonop kan jy daar gaan kyk na die geel blindevliegblommetjies, die diep oranje kewergousblomme, pers bosvygies (Lampranthus) en botterblomme waarvan die geleerde naam Gazania is.

Die gebied waarin die blomme voorkom is half woestynagtig, dus nie ideale weersomstandighede nie. Tog het die blomme geleer om te oorleef en stel dit nooit teleur nie.

Dit is nie net Suid-Afrika wat van diversiteit getuig nie, dis waar van jou werkplek, jou inkopiesentrum en ontspanningsplekke. Dalk is dit ook so in jou sosiale kring en gemeente.

Soos die blomme-verskeidenheid gesig na die son toe draai en almal in vervoering het vanweë die wyse waarop hulle mekaar komplementeer, nie kompeteer nie, so word ons geroep om hier aan die suidpunt van Afrika te demonstreer dat ons met mekaar kan oor die weg kom.

Net dalk sal besoekers van oor die hele wêreld ons kom besoek soos toeriste graag na Namakwaland toe uitwyk. Net dalk sal ons kan getuig dat God dit doen en gedoen het.

Ons is bymekaargemaak en is almal Sy kosbare blomme.

So staan ons met die gesig gedraai na die Son, die Son van geregtigheid met genesing in sy strale.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Delia ·

Pragtig. Was laasjaar daar. Wonderlike skouspel. Pietsnot en al….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.