ToekomsVenster: Geen gewone liefde nie

liefde-hartjies-liggies-dekor

(Foto: Freestocks/Unsplash)

Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. – 1 Kor. 13:7

Paulus maak die pap spreekwoordelik dik aan met die wyse waarop hy die uitsonderlike kwaliteite en gesindhede van die liefde stapel.

Let op die woordjie “alles”. Dit is omvattend, insluitend, radikaal en gepas. Liefde oorwin. Dit laat my dink aan daardie pragtige lied – “Love, love changes everything”.

Toegegee, somtyds word ons vermoë om onvoorwaardelik lief te hê getoets en weer getoets. Mense verskil van mekaar en ’n veelheid van faktore dra daardie by. Die wêreld sou in elk geval ’n eentonige en vervelige plek gewees het as ons almal altyd oor alles saamgestem het.

Tog wil ons graag hê dat ons verstaan van ’n saak algemeen aanvaar word. Ons interpreteer teenstand en verskil van mening persoonlik en voel gebelg. Soos telkens die afgelope week gesê, die “eie ek” is springlewendig en wil graag sy wil op ander afdwing.

Liefde laat spasie waarbinne sake debatteer kan word. Dit laat genoeg spasie dat mense van mekaar kan verskil sonder om kwaai vriende te word of mekaar se motiewe te betwyfel.

Bedek, glo, hoop en verdra.

Ek wonder waar jou aandag vassteek: Is dit dalk vir jou moeilik om ander se verleentheid en skandes te bedek? Voel jy dalk geroepe daarom aan die groot klok te hang? Is jou vertrekpunt een van vertroue in ander of is jy sinies en op ’n afstand totdat ander hul bona fides bewys het? Is daar nog hoop by jou aanwesig en die geloof dat ander soos jy hul uitdagings, probleme en selfs verslaafdheid kan oorwin? Is jy ongeduldig teenoor en met ander of is daar ’n gesonde dosis verdraagsaamheid by jou teenwoordig?

Die liefde doen al daardie verhewe dinge. Dit is baie duidelik dat hierdie kaliber liefde nie gewoon en menslik is nie. Dit is verhewe en goddelik. Dit sê Paulus het God kragtens die wedergeboorte in ons harte uitgestort.

Laat Sy liefde uit jou vloei vandag!

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.