ToekomsVenster: Geen trane meer nie

(Foto: Emma Trevisan/Unsplash)

Jes. 25:8 – Hier sal die Here God die dood vir ewig vernietig, en die trane op almal se gesigte afvee. Oor die hele aarde sal Hy die smaad verwyder wat sy volk aangedoen is. Die Here het dit gesê.

Die laaste woorde van hierdie vers is ʼn heerlike beginpunt vir die vers. Die Here se dit, verklaar, beloof dit. Die Here, God van die heelal, die Almagtige, Alwetende, Alomteenwoordige, Ewige, Barmhartige, goeie en sagmoedige Heerser oor alles, sê dit.

In die mond van God staan die saak vas. Mense is onbetroubaar maar God se geloofwaardigheid en integriteit kan nie bevraagteken word nie.

Wat Hy sê, aankondig, belowe, doen Hy.

Uiteraard moet die beloftes van God in die geloof vasgegryp word. Dit is een ding dat God dit sê maar, as mense verkies om God nie gelyk te gee nie, is dit hul eie verantwoordelikheid. Hy dring Hom aan niemand op nie.

Dan weer  is sy werke misterieus en sy genade oorvloedig. Dit beteken doodgewoon dat ek nie namens God kan besluit wat moontlik is en hoe Hy te werk gaan of nie te werk gaan nie. Laat God wees wie Hy se Hy is. Ons verstaan van sy genade is beperk en met menslike inhoud en interpretasie deurspek.

Nietemin, die Here vernietig die dood en vee die trane van almal se gesigte af.

Die dood is die laaste houvas wat die sonde op mense gehad het. Die dood is vreemd, ja eintlik lewensbedreigend. Niemand wens die dood nader nie en selfs met ʼn stoorkamer vol geloof sukkel meeste mense met die konsep van die dood. Dan weer kom Paulus ons tegemoet wanneer hy ons daaraan herinner dat die houvas van die dood, die angel, die sonde van sy vernietigende krag beroof is. Jesus het betaal, klaar betaal, volledig betaal, tot die laaste druppel bloed.

Niks is uitstaande nie. Ons verlossing staan vas. Niks kan ons skei van sy liefde nie, dit dra ons die ewigheid binne.

Die teks verduidelik ook hoe die Koninkryk van God in sy volle en heerlike gestalte daaruitsien. Geen trane meer nie. Die smaad wat sy volk aangedoen is word verwyder. Die wreedheid wat deur die eeue God se kinders aangedoen is word gewreek. Die bloed van die martelare roep na daardie dag. Dit sal ʼn dag van afrekening wees vir elkeen wat soos ʼn Isebel, die boosaardige koning Agab se vrou die profete van God gedood het.

Die lewe mag somtyds moeisaam wees maar daar kom ʼn dag, die Here het dit gesê. Maranatha, kom Here Jesus.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.