ToekomsVenster: Geen valse getuienis

(Foto: Aaron Burden/Unsplash)

Jy mag geen valse getuienis lewer nie – Eksodus 20

Gedurende hierdie week staan ons met die een oor teen die plaaslike koerant en die ander teen die Bybel as geïnspireerde Woord van God. Die koerant dien as metafoor vir die openbare media en is daagliks gevul met allerlei verwikkelinge op politieke, ekonomiese en maatskaplike front. Op 3 Mei was internasionale dag van Persvryheid en dit is wêreldwyd gevier.

In gesprek met Johannes Froneman, emeritusprofessor in joernalistiek, en Gert van der Westhuizen, reeds 32 jaar ʼn joernalis gesels ons oor die mandaat en reikwydte van die joernalis se taak.

Die groot verantwoordelikheid om objektief te berig, sonder dat persoonlike oortuigings deurskemer, kom ter sprake. Ons gesels oor fopnuus en die rol wat digitale media speel in die verspreiding daarvan. Hoe andersins verantwoordelike en volwasse mense hulself so maklik deur hoorsê en onbewese bewerings kan laat bedien, is ʼn misterie. So gesels ons heerlik en stem met mekaar saam dat die media ʼn merkwaardige taak het in die heropbou en genesing van ons land Suid-Afrika.

Die Bybel is ʼn besondere en meesterlike stuk joernalistiek. Verskeie skrywers in die 66 boeke van die Bybel volg op wonderbaarlike wyse een goue draad, die van God, die Skepper se goeie bedoelinge met mense en die koms van die Messias Koning. Oor honderde jare het die Bybel sy beslag gekry maar die samehang daarvan is verbysterend. Mens kan geen ander afleiding maak as dat ʼn bo menslike krag, ons as gelowiges ken dit as die krag van die Heilige Gees, mense inspireer het om hul verhale en gewaarwordinge neer te skryf nie.

Dit is egter ook so dat elke mens joernalis in eie reg is. Soos alle ander mense skakel gelowiges op ʼn daaglikse basis met ander en deel nuus met mekaar. Hierdie nuus word van ʼn breë front platforms versamel en as die waarheid weer gegee.

Ongelukkig is ons somtyds naïef en deel inligting met ander sonder om dit behoorlik te verifieer. In daardie sin is ons self ongeloofwaardig en lewer ons wat in die Tien Gebooie valse getuienis genoem word met ander. Ons dring daarop aan dat die nuus ook met ander gedeel moet word anders skort dit met jou Christenskap. Indien iemand waag om die korrektief te vermeld of die bron te bevraagteken skryf ons daardie persoon sondermeer af.

Ek wonder, soos ons, ek en jy met nuus omgaan, sou die Here ons vertrou het om skrywers van sy Heilige Woord te wees?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.