ToekomsVenster: Geestelike vaders


mentorskap

Foto: Currentbuzz.my

Hierdie dinge skryf ek nie om julle skaam te maak nie, maar om julle as my geliefde kinders tereg te wys, want al sou julle ook duisende leermeesters in Christus hê, baie vaders het julle nie.- 1 Korintiërs 4:1-17

Geestelike vaders tree as mentors op om jonger gelowiges deur hulle voorbeeld te begelei.  Hulle dwing gesag af deur hulle gees van liefde en vriendelikheid en deur kennis en ervaring wat hulle tot so ‘n mate verwerf het dat hulle as natuurlike rolmodelle geïdentifiseer word.  Dit is met ander woorde nie noodwendig ‘n persoon met status of met ‘n bepaalde aanstelling nie, maar iemand wat hom- of haarself onderskei het en volgelinge spontaan betrek.

Ons het meer van sulke lewensmentors nodig in ons land.  Ons land vra mense met integriteit om ons uit die moeras van allerlei vergrype te lei.  Ons regstelsel werk alleen wannneer daar ‘n gewillige en respekvolle onderwerping daaraan uitgeleef word.  Mense met lewenswysheid en geestelike leierskap kan ons weer inspireer om ons morele waardes weer op te skerp en uit te leef.  Hulle is die gidse op ons onbekende en soms moeilike lewensreise.

Wees op die uitkyk vir so ‘n vader!  Hulle is daar buite.  Dit is nie super vleklose mense nie, maar tog egte eerlike rolmodelle en mentors.  Reik uit na iemand wat jou kan begelei op jou reis.  Dalk is jy so ‘n persoon en vervul jy alreeds so ‘n rol.  Wees dan toegewyd aan hierdie besondere roeping!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dewald Alberts ·

Ek Dewald, Afrika kind wens ons kan die skrywe soos wyd verkondig dat dit `n daaglikse begin stukkie word. Meer as `n oggendgebed of belofte, eerder `n uitgangspunt van `n nuwe rigting of benadering tot die lewe. Ek was so verlore jongman, so half rigtingloos, nie `n slegte mens nie maar net soos my mede jongelinge. Tot op `n dag wat ek `n Joodse oomie ontmoet het, hy, Oom Johnny het my raakgeskraap so met sy arm en vir my gesê seun, kom sit hier dan gesels ons. Dit was die eerste van `n aantal wyse mense, dit was `n oomblik van oorbrugging in my lewe, ek is dankbaar daarvoor. So wonder ek knaend wat het gebeur met die wyses, of is hulle vasgevang in die verlede en nie so wys nie ? Of lê die probleem by die jeug ? Hoe dit ook al sy, die wysheid is daar buite, dit moet benut word, anders is dit nodeloos. Ek het vanoggend `n afspraak gehad met so `n Afrika seun, dit is wonderlik om terug te kan gee. Simpiwe, jou pad het begin.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.