ToekomsVenster: Geld en God langs mekaar

geld-kis-skatkis

Foto: Alexas_Fotos/Pexels.com

“Julle kan nie God en Mammon dien nie.” – Matteus 6:24

Hierdie uitlating van Christus rakende God en Mammon is vandag nog alombekend in die volksmond; 2,000 jaar later. Die woord “Mammon” is ’n Aramese woord wat direk vertaal kan word as “vertrou”. Wat egter uitstaan in die teks, is dat Christus God en geld direk langs mekaar plaas. Daardeur gee Christus geld ’n persoonlike karakter.

In hierdie verband is geld dus baie meer as rand en sent. Hier gee Christus geld ’n persoonlikheid. Dit is nie verregaande nie, want dis baie moontlik dat ’n mens ’n mate van sekuriteit kan beleef as jy genoeg geld het. Soms voel ’n mens dat geld veiligheid en selfs gesondheid, soos die beste mediese versorging, kan koop. Hierdie waarheid word bevestig in die ware verhaal wat aangeteken is in Matteus 19:16-24 waar ’n ryk jongman baie vertroue in sy geld en besittings plaas.

Die teenoorgestelde van hierdie verhaal is egter aangeteken in Lukas 21:1-4 waar ’n weduwee haar volle vertroue in God toon. Hierdie dame het haar totale lewensonderhoud in die koninkryk belê en só haar vertroue in God bevestig.

’n Gebrek of die oorvloed aan geld het dus ’n direkte uitwerking op ’n mens se vertroue. Geld is dus soos ’n vergrootglas; dit wys jou waar jou vertroue lê.

Iets om oor na te dink

Kan dit wees dat bogenoemde gedagtes rondom geld en God ’n permanente toets van vertroue in elkeen van ons se lewens is? Hoe verstaan en sien jy geld in die lewe? Wat is jy bereid om te doen om geld te bekom? Dieselfde vrae kan gevra word as dit kom by geloof. Hoe verstaan en sien jy Christus in die lewe en wat is jy bereid om te doen wanneer dit kom by koninkryksverwagtinge?

Gebed

Here, ek besef dat geld deel van die lewe is. Help my egter om altyd U koninkryk eerste te stel.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pieter Perold ·

Baie goeie vraag, maar die artikel spreek nie die drukpunte aan nie. Onthou die vers: (Matt. 19:24). As jy geld het, veral baie geld, hoe kom jy net in die hemel? Jesus het ook verder gese: “As jy ware Christen is, los alles, neem jou kruis op en dien God”.

Burger ·

Armoede of rykdom is relatief tot waarmee jy dit vergelyk. As almal in n dorp op die voet is en een ou het n fiets , is hy seker die ryke.

Sou hy egter n dorp bly waar almal karre het is die arm ou.

Ons moet versigtig wees om geld die oorsaak te maak van ogereddenheid. Die alles los, is geestelik . Dit begin by bekering . Daardie punt waar jy jou alles neerle voor Jesus en niks terughou nie. Daai oomblik waar jy besef God is alles en ongekende genade . Genade wat nie onderskei tussen ryk en arm .Die gedeelte in Mattheus verwys na bekering , nie om alle materiele dinge agter te laat nie.

Geld as ruil middel is nie negatief nie. Die gee orde en struktuur. Die verkeerde gebruik daarvan is die probleem.

Dit verduidelik ook waar geskryf staan dat dit moeliker is vir ryk man om die ewige lewe te kry as vir n kameel om deur die oog van n naald te gaan. Dit is geestelik en verwys net na jou eie afhanklikheid . Is jy n selfgemaakte man van wereldse aansien wat Sondae in die kerk pronk of is jy n wedergebore kind van God wat ook materieel versorg word en aanvaar alles wat jy het , min of baie , is genade. Die min of baie kom deur n werk wat vir jou gegee is uit genade en jy het gesonde liggaam en verstand uit genade.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.