ToekomsVenster: Geld in die huis

spaarvarkie-munte-geld

Foto: Skitterphoto/Pexels.com.

Hierdie opsomming kyk terug na die dagstukkies wat handel oor geld in die huis. Geld en God is langs mekaar geplaas en wat ons hier geleer het, is dat Christus geld ’n karakter gee. Dit bring ’n ander perspektief na vore waar geld ’n baas of meester genoem word. Die woord wat Christus hier gebruik om na geld te verwys kan ook vertaal word as vertroue. Dit is ook dan genoem dat ons vertroue gedurig getoets word. Die doel van hierdie toets is egter nie om ons as swakkelinge uit te beeld nie, maar eerder om ons te leer dat God die enigste ware bron van voorsiening is.

Daar is ook genoem dat daar finansiële fases in elkeen se lewe voorkom. Die Egipte-fase is uitgebeeld as die “slaaf ”-fase waar ek baie hard werk, maar eintlik in skuld leef. Alhoewel ek baie materiële dinge kan wys, behoort dit nie aan my nie en eintlik verryk ek ander net. Die woestynfase is die plek waar ek net genoeg het om van dag tot dag deur te kom. Alhoewel ek die voorsiening van die Here hier beleef, het ek net genoeg vir myself en kan nie tot seën van ander wees nie. Die laaste fase is waar die beloftes van die Here ’n werklikheid word en ek ook tot seën van ander kan wees.

Daar is vlugtig na kinders en finansies gekyk en dit is uitgelig dat kinders juis van jongs af in die huis blootgestel moet word aan hierdie belangrike aspek in hul lewens. As jy dit nog nie gedoen het nie, onthou om ’n bankrekening vir jou kinders oop te maak en leer hulle om hul geld te bestuur. Hoe vroeër daar begin word, hoe beter vir die kind.

Dan is daar ook na tussenwerk gekyk en die uitdagings van hierdie fase is uitgelig. Laastens is die liefdesoffergawe aangespreek. Daar is beklemtoon dat offergawes deur liefde en gehoorsaamheid gemotiveer word. Wees dus biddend wanneer dit kom by jou offergawes en saai jou saad met blydskap.

Gebed

Here, ek besef dat U die enigste en ware bron van voorsiening is. Baie dankie dat U daagliks aan my brood voorsien. Help my ook deur die moeilike finansiële fases. Dankie dat ek ook ’n instrument in U hand kan wees om die koninkryk van God op aarde te vestig.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.