ToekomsVenster: Geld moet gespaar word


Foto: The Red Wire/theredwire.org

“… hulle moet al die graan van die goeie jare wat aan die kom is, insamel en dit in graanskure bêre en bewaak sodat daar kos tot u beskikking is. Dan sal die hongersnood nie die land uitroei nie.” – Genesis 41:33–36

Ons teksgedeelte handel oor die farao wat raad kry by Josef rakende die toekomstige “ekonomiese seisoene”. Hierdie verhaal speel af in die omgewing van so 6,000 jaar gelede. Baie ekonome vandag sal bevestig dat daar nog steeds ekonomiese seisoene voorkom. Dit beteken dat daar soms goeie finansiële tye is en dat ander tye baie meer uitdagend is. Josef het dit doodeenvoudig goeie jare en maer jare genoem.

Josef se raad om deur die moeilike tye te kom, is egter dat daar ’n gedeelte weggebêre moet word in die tye van oorvloed. Van die Bybelse vertalings praat van ’n 5de en ander praat weer van 20 %. Die beginsel is egter dat ons as gelowiges moet spaar, veral in die voorspoedige tye. Hierdie eeueoue beginsel is vandag nog net so relevant as wat dit was gedurende die antieke tyd. Dit is hierdie beginsel wat ’n hele nasie van ondergang gered het en was ook ’n oorlewingsplatform vir die volk van God.

Iets om oor na te dink

Onthou dat, hoe vroeër jy begin spaar, hoe minder hoef jy elke maand te spaar vir jou senior jare. Aan die ander kant, hoe later jy begin spaar in die lewe, hoe meer moet jy maandeliks spaar omdat jy baie minder tyd tot jou beskikking het tot jou aftrede.

Gebed

Here leer my asseblief om in die tye van voorspoed voorsiening te maak vir die moeilike tye. Gee my asseblief die wysheid en dissipline om my spaargeld reg en veilig te belê.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.