1 Thess. 1:2-3 – Ons dank God altyd vir julle almal wanneer ons in ons gebede aan julle dink. Sonder ophou bring ons dan voor God ons Vader in herinnering die werk van julle geloof, die inspanning van julle liefde en die volharding van julle hoop op ons Here Jesus Christus.
Ai, die Woord van die Here is ryklik geskakeerd. Paulus is ʼn meester skrywer en alhoewel iemand anders dalk die teks vir hom neergeskryf het, het hy dit uitnemend verwoord. Die opgewondenheid en entoesiasme van Paulus is aansteeklik en hy kan homself nie behelp om dinge in oortreffende trap te stel nie.
Ons God is ʼn oortreffende Vader. Hy oortref alle verwagtinge en is onbetwisbaar getrou.
Luister na die teks! Let eerste op na die drie bekende elemente, geloof, hoop en liefde.
Ek glo dit herinner jou dadelik aan 1 Kor. 13 waar Paulus die uitnemendheid van die liefde besing. Die drieling, geloof, hoop en liefde het een Ouer, God drie enig. Hy is die vergestalting van die inhoud van daardie begrippe. Hy verduidelik dit die beste.
Let saam met my op na Paulus se taalgebruik. Wat wil hy daardeur kommunikeer?
- Die werk van julle geloof.
- Die inspanning van julle liefde.
- Die volharding van julle hoop.
Luister en verstaan ek verkeerd of sit daar ʼn bietjie energie in die begrippe wat werk, inspanning en volharding verg?
Die gevaar is dat geloof, hoop en liefde maklik in ʼn lugleegte kan probeer bestaan. Dit klink so vroom en voorbeeldig en die verwysing na die begrippe erg geestelik.
Maar dit bly ʼn verbeeldingsvlug wat tot niks kom en vir niemand iets beteken nie.
Jesus het ons onvoorwaardelik lief, niemand kan daaraan twyfel nie. Tog het Hy nie in die hemel gebly en boodskappies in mooi gevoude briefies met hartjies daarop aan ons gestuur terwyl ons in ellende verkeer nie. Nee, Hy het, en dit is juis die aangrypende van die Evangelie, sy hemelse heerlikheid verlaat en mense gelyk geword.
Werk, inspanning en volharding is deur Hom gedemonstreer. Hy het onder ons gewerk, Hom toegewy en ingespan om sy taak op aarde af te handel en te midde van teëstand volhard en nie opgegee nie.
Die vraag is dus hoe konkreet ons geloof, hoop en liefde is? Vat dit iewers grond en maak dit ‘n verskil?
- ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
2 Kommentare
Amen
Dankie Here Jesus dat U die weg vir ons kom baan het..dat U vergewe al verdien ons dit nie…Amen