ToekomsVenster: Geloof in aksie

donkie

Foto: Daniel Burka/Unsplash.com

Toe hulle naby Jerusalem kom, by Betfage en Betanië op die Olyfberg, stuur Jesus twee van sy dissipels en sê vir hulle: “Gaan na die dorpie daar reg voor julle, en net soos julle inkom, sal julle daar ‘n jong donkie vasgemaak kry. Geen mens het nog op hom gery nie. Maak hom los en bring hom hier. En as iemand vir julle sê: ‘Wat maak julle daar?’ moet julle sê: Die Here het hom nodig, en Hy sal hom gou weer hierheen terugstuur.” Hulle het toe gegaan en ‘n jong donkie by die ingang, buite langs die pad, vasgemaak gekry en hom losgemaak. Party van die mense wat daar gestaan het, het vir hulle gesê: “Waarom maak julle die donkie los?” Hulle het hulle geantwoord soos Jesus gesê het. Daarna het die mense hulle laat begaan. Hulle bring toe die donkie na Jesus toe en sit van hulle klere op hom, en Jesus het opgeklim. Baie mense het van hulle klere op die pad oopgegooi en party weer groen takkies wat hulle langs die pad afgebreek het. Dié wat voor geloop en dié wat agteraan gekom het, het uitgeroep: “Prys Hom! Loof Hom wat in die Naam van die Here kom! Geseënd is ons voorvader Dawid se koninkryk wat aan die kom is! Prys Hom in die hoogste hemel!” Jesus het in Jerusalem na die tempel toe gegaan en alles daar bekyk. Dit was al laat middag toe Hy en die twaalf weer na Betanië toe gegaan het. Markus 11:1-11

Dis ʼn pragtige toneel wat hom hier voor ons oë afspeel. Die donkie wat reeds gereed staan om die Messias koning te vervoer, die mense wat in eerbetoon takkies afbreek, hul klere op die pad strooi en luidrugtig die Koning van Konings, afstammeling van koning Dawid verwelkom.

Dis geloof in aksie. Die gepas en uiteraard die regte ding om te doen. Dit moes die geestelikes van die dag baie ontstel het. Seker daarom dat hulle begeer om van Hom ontslae te raak. Die eerbewys is oordadig en nie gepas nie. Die hele volk loop agter Jesus aan. Die geestelikes se invloed en roem is in gedrang. Nou gaan mense agter Jesus aanloop en die geestelikes gaan hulle gesag verloor.

Hoe is dit moontlik dat dieselfde mense wat skree en uitroep “Hosanna vir die Seun van Dawid” later uitroep Kruisig Hom? Hoe kon hulle daarop aandring dat Jesus Barrabas vrygelaat word terwyl Jesus oorgelewer word om gekruisig te word? Hoe is dit moontlik dat hulle later by die gefolterde Messias figuur sonder empatie verbystap, die kop in ongeloof skud en voorstel dat Hy homself van die kruis verlos.

Iewers staan Elia voor die ou Testamentiese kerk en vra of hulle Baal of God aanhang. Hulle stilswye spreek boekdele. Dis die mense wat of beleef of gehoor het hoedat God die voorvaders uit Egipte verlos het, tydens hul veertigjarige reis in die woestyn onderhou het, die beloofde land voor hulle oopgemaak het, vyandighede teen hulle gefruik het, om maar ʼn paar sake te noem. En tog staan hulle onbeslis wanneer hulle ʼn keuse moet uitoefen.

Dalk is die oorweging wat in die onmiddellike toekoms die grootste voordeel beteken. Om die magtige Romeinse ryk aan jou kant te hê, veral die Joodse geestelikes met hul groot invloed, sou waarskynlik baie meer sin maak as om met ʼn lydende mens wat oënskynlik onmagtig is om sy aansprake gestand te doen te identifiseer.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.