
(Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)
“En daar kom ʼn wolk wat hulle oordek; en uit die wolk kom ʼn stem wat sê: Dit is my geliefde Seun, luister na Hom!” – Markus 9:7 (AFR53)
God openbaar Homself as drie-in-een: Vader, Seun en Heilige Gees. Geheimsinnig, onverstaanbaar, maar waar.
Ons glo dit, ons beleef dit, ons het ʼn verhouding met hierdie merkwaardige wese. Ons aanbid die Vader as die Skepper en Onderhouer van alles. Ons aanbid die Seun as die Verlosser wat in die volheid van die tyd na die aarde gekom het om vir ons sonde te kom sterf en die prys vir ons verlossing te betaal.
Ons glo in die Heilige Gees wat ons toerus vir die lewe uit en deur die geloof.
Hierdie is maar enkele aspekte van die fenomenale werk van die merkwaardige God in die lewens van mense, in die besonder as gelowiges, ook in en deur die kerk as geloofsgemeenskap.
“Die Apostoliese Geloofsbelydenis is ʼn vroeë belydenis van Christelike geloof, heel moontlik vanuit die eerste of tweede eeu. Dit wil voorkom asof dit geskryf is om die kern van die vroeë Christelike geloof te verwoord, en is ook ʼn antwoord op Gnostisisme wat liggaam en siel van mekaar wou skei. Christus se vleeswording en die liggaamlike opstanding was vir hulle onaanvaarbaar, daarom dat die belydenis spesifiek na Christus se maagdelike verwekking, en gelowiges se “liggaamlike” opstanding verwys”.
Dit is ʼn kort opsomming van die kardinale geloofswaarhede wat ons as Christene bely. Dit is ʼn uitnemende stuk gereedskap vir wanneer ʼn mens geloofstwyfel beleef of iemand jou met ander denke probeer oorhaal. Die Vader, Seun, Heilige Gees, die ewigheid, die kerk, ensovoorts kom daarin ter sprake.
Miskien kan ons dit net weer saam met mekaar bely en so versterk word in ons geloofsverstaan.
“Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde,
En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het [1](neergedaal het na die hel);
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader;
van waar Hy sal kom om te oordeel die wat nog lewe, en die wat reeds gesterf het.
Ek glo in die Heilige Gees;
ek glo aan ʼn heilige, algemene Christelike kerk,
die gemeenskap van die heiliges,
die vergewing van sondes,
die opstanding van die vlees en in ʼn ewige lewe”.
Het jy opgelet hoe dikwels die woorde “ek glo” hierin na vore kom. Inderdaad, geloof is van ʼn gans ander dimensie. Dit is ʼn gawe van God die Heilige Gees en ʼn mens staan in verwondering as ʼn mens daaraan dink dat jy deel kan wees ʼn geloofsgemeenskap wat oor eeue strek en hul sekuriteit, sin en bestemming, in hierdie woorde gevind het.
- ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.
Belangrikste boodskap ooit.