ToekomsVenster: Geloof wat tot dade oorgaan

sparkler-lig-glo-geloof-hoop

Foto:
Freestocks.org/Pexels

Maar iemand kan miskien sê: “Die een het die geloof en die ander het die dade.” Goed, wys dan vir my jou geloof wat sonder dade is, en ek sal jou my geloof wys uit my dade. – Jak. 2:18

Die wisselwerking tussen geloof en dade word duidelik gedemonstreer. Konsekwent sou ʼn mens kon redeneer dat daar nie sprake is van geloof as dit nie prakties demonstreer word nie.
Dade is persoon en konteks spesifiek.
Dade het ʼn adres aan wie dit gerig is.
Dade bring benewens die hart die hande en voete van die gelowige in beweging.
Dade is Jesus in die praktyk, dis naby kom aan mense met die gesindheid en liefde van Jesus.

Terugskouend sou ʼn mens kon vra hoeveel van ons by Jesus “uitgekom” het vanweë die praktiese liefdesbetoning deur iemand anders. Ek wonder ook stellig hoeveel mense van Christus vervreem is vanweë die lakse en slordige wyse waarop met die Jakobus teks omgegaan is.
Praat is maklik en goedkoop.
Dis die gekonkretiseerde Evangelie wat die verskil maak.
Dit mag die rede wees waarom die kerk dikwels ongeloofwaardig voorkom. Dit is opmerklik dat die bekende organisasie wat dikwels in die media aangeprys word vir humanitêre bystand op vele gebiede nie ʼn Christelike vertrekpunt het nie.

Daarbenewens huiwer hulle ook nie om hul besighede te sluit wanneer dit gebed tye is nie.
As mense wat Christus nie het nie met soveel ywer optree, hoeveel te meer die vrygekooptes.

Glo jy dat daar net een God is? Dit is reg. Die bose geeste glo dit ook – en hulle sidder van angs. – Jak. 2:19

Die teks val vreemd op die oor gegewe die plek waar dit voorkom. Mens kan tereg vra wat die teks juis hier doen waar Jakobus skryf oor geloof wat tot dade oorgaan?

Jakobus “looi” mense wat hul wil verontskuldig deur skielik ʼn teologiese gesprek aan te knoop. Die saak waarmee Jakobus besig is kom as’t ware te naby aan die lyf en derhalwe probeer hul Jakobus van die spoor af dwing.

Die Samaritaanse vrou het dieselfde gedoen toe Jesus te naby aan haar leefwêreld kom. Dis ons almal se manier van optree. Ons probeer die ongemaklike kollig van onsself wegdraai en die gesprek in ʼn ander rigting stuur. Jakobus laat hom egter nie intimideer nie. Hy keer onmiddellik na die saak voorhande terug, nl. ʼn lewe wat slegs uit woorde bestaan.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.