ToekomsVenster: Geloofsverkeer met medegelowiges


hande-in-gebed-02

Argieffoto.

ʼn Pelgrimslied. Van Dawid. Ek was bly toe hulle vir my gesê het: “Kom ons gaan na die huis van die Here toe.” – Psalm 122:1

Ja, ek is die eerste om toe te gee dat “kerk toe gaan” soos ons dit tradisioneel ken en noem, eerder om die plaaslike erediens op ʼn Sondag te besoek, nie die alfa en omega van die geloof is nie.

Ons leef in interessante tye en daar is betekenisvolle getalle mense wat die plaaslike gemeente met sy strukture en wat hulle as voorskrifte beleef nie meer aantreklik vind nie. Derhalwe dien hulle die Here in ʼn verskeidenheid van geloofsgemeenskappe.

Dis mense se prerogatief om besluite in dié verband te neem. Die beginsel in hierdie vers is eerder die belangrikheid van geloofsverkeer met medegelowiges, saam besig om aan die Koning van die konings eer en lof te bring.

Mense, Christene ingesluit, is deesdae baie besig en dit is nie meer vreemd dat albei ouers werk nie. Daarbenewens word ontstellend baie van ons kinders op skool verwag. Ek vrees die druk op ons leerders is ongesond en te veel. Sondag is almal doodmoeg en dan is die plaaslike erediens ná Saterdag se energieke sosiale verkeer nie juis prioriteit nie. Dit laat ʼn mens wonder waar en wanneer gelowiges toegerus word vir die uitdagings van elke dag se lewe.

Terloops, sommige mense sê hulle gaan nie kerk toe uit gewoonte nie, maar net wanneer hulle die begeerte daartoe het. Benewens die feit dat goeie gewoontes belangrik is, wys die gemiddelde erediensbywoning dat relatief min mense die behoefte deesdae sterk aanvoel!

Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom. – Hebreërs 10:25

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dina van Niekerk ·

Ja, dit is Sondae sielsverrykend om te sing, te bid en te luister na die Boodskap wat via die predikant/pastoor na jou deurkom! Dit is so hartseer dat die goeie verhouding met gays wat rustig hul gang saam met ons gegaan het, nou oorheers word deur ‘n klein persentasie radikales. Onder leiding van Gaum & Kie en met die keffende Jean Oosthuizen kort op hulle hakke spring ‘n groot persentasie nou saam op die wa! Hulle kaap ons eredienste, ons kosbare Bybelstudies, ons Omgeegroepe – ál ons samekomste draai nou om die radikales wat dan nou tog so “uitgeskuif” word. Só oorheers dit ons samesyn dat Lof en Eer dikwels tweede kom! Dis verskriklik. Dankie aan ons gayvriende wat rustig hul gang gaan (sommige met gepaardgaande berading) en nie onredelike eise stel nie … DinavN

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.