ToekomsVenster: Geloofsvertroue

son-en-wolke-pta-juanita-badenhorst

Foto: Juanita Badenhorst.

Jesus het Hom gereed gemaak en daarvandaan weggegaan na die gebied van Tirus toe. Daar het Hy in ‘n sekere huis tuis gegaan, en Hy wou nie hê dat iemand dit te wete moes kom nie. Tog kon Hy nie onopgemerk bly nie. ‘n Vrou wie se dogtertjie van ‘n onrein gees besete was, het gou van Hom te hore gekom. Sy het gekom en voor sy voete neergeval. Hierdie vrou was ‘n Griek wat in Siro-Fenisië gebore is. Sy het Hom gevra om die bose gees uit haar dogter uit te drywe. Maar Hy het vir haar gesê: “Wag dat die kinders eers klaar eet, want dit is nie mooi om die kinders se kos te vat en vir die hondjies te gooi nie.” Sy het Hom geantwoord: “Here, die hondjies eet darem onder die tafel die kindertjies se oorskiet.” Toe sê Hy vir haar: “Op grond van wat jy gesê het, kan jy maar huis toe gaan; die bose gees het al klaar uit jou dogter uitgegaan.” Toe sy by die huis kom, kry sy haar kindjie op die bed lê en die bose gees was al klaar uit haar uit. – Markus 7:24-30

Dis een van daardie moeiliker gedeeltes in Markus Evangelie. Dit klink asof Jesus onwillig is om hierdie arme vrou wat nie van Joodse afkoms was nie te help. Hoe rym ʼn mens dit met jou verstaan van wie Jesus was? Het Hy dan nie gekom om mense van onrein geeste te bevry nie? Het Jesus dan nasionalistiese trekke en voorkeure?

Ek dink nie so nie, inteendeel, ek is daarvan hartlik oortuig dat Jesus nie mense uitsluit nie. Die wyse waarop Hy Homself bemoei met stukkende en gebroke mense sonder aansiens maak dit duidelik.

Dis tog Jesus wat die verhaal van die barmhartige Samaritaan vertel juis om die vooropgesette idees en gepaardgaande vooroordeel van sy landgenote te bevraagteken.

Dis Jesus wat die leërowerste se dogtertjie gesond maak. Dis Jesus wat Homself met onrein mense bemoei. Hy raak melaatses aan en reis deur Samaritaanse dorpe.

Hoe verstaan jy Jesus se antwoord? Die kos moet nie vir die hondjies gegooi word nie.

Jesus het in die eerste plek vir die Jode gekom. Deur hulle sou en moes die hele wêreld met die Evangelie van verlossing bedien word. Die kinders verwys na die Jode. Die kos is die boodskap dat Jesus die vervulling van ou Testamentiese profesieë is, die Messias koning. Hulle moes eerste hoor en dan self gehoorsaam word.

Die vrou dink op haar voete. Krummels het ʼn manier om op die grond te land. Die hondjies verlustig hulle daarin. Vir haar is die krummels genoeg. Net maar die geringste belangstelling en aandag van Jesus is genoeg om haar nood aan te spreek. Haar opmerking getuig van geloofsvertroue en is ʼn voorbeeld vir die kinders wat nooit aangesit het en geëet het nie.

Met die dood en opstanding van Jesus tree die universele trekke van die Evangelie duidelik na vore. Maak dissipels van alle nasies laat geen ruimte vir misverstand nie. Jerusalem, Judea, Samaria en die uithoeke van die aarde. Is jy daarmee besig?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.