ToekomsVenster: Geloofworsteling


bekommernis

Argieffoto.

Hoe lank gaan U my nog bly vergeet, Here?  Vir altyd?  Hoe lank gaan U nog van my af weg kyk? – Lees Psalm 13:2

As dit sleg gaan met ʼn mens en die uitkoms nie gou genoeg kom nie, vra ʼn mens maklik (soos die Psalm-skrywer), hoe lank dan nog?

Vier keer word dieselfde vraag gevra:

  • Hoe lank gaan U my vergeet (ʼn ernstige en ongesubstansieërde aanklag teen God. Hy is Immanuel, God met ons. Hy sal ons nooit begewe en verlaat nie).  Hoe lank gaan U nog wegkyk?  In Christus is God se oë op ons. Ons is Sy gunsgenote.
  • Hoe lank nog eie planne maak omdat God oënskynlik nie uitkoms gee nie en die digter voel dat hy op homself aangewese is. Dit terwyl die Gees van die Here, die Leidsman en Helper gereed staan om ons op die lewenstrajek te begelei.
  • Hoe lank sal die vyand oorheers? Dit terwyl die bose as verteenwoordiger van die verkeerde reeds ontklee is van alle mag en triomfantelik in God se oorwinning meegesleur word na sy bestemde einde.
  • Die digter is verbyster en ontnugter vanweë sy omstandighede. Dis egter God se oënskynlike afwesigheid en onwilligheid om tussenbeide te tree veral wat hom teen die muur uitdryf.

“Luister tog en antwoord my”.

Geloofsworsteling is nie noodwendig ʼn slegte plek om te wees nie.  Dis in daardie oomblikke van uitputting dat jy God nuut en vars kan beleef as die immer teenwoordige en alwetende God.

Hy is die God van die “skielike tussenbeide tree”, net toe jy gedink het, ikabod, dis klaar met my.

Moenie opgee op jou geloofsvertroue nie.

God is nie weg, doof, blind of traak-my-nie-agtig rakende jou verleentheid nie.  Hy is nog altyd daar.

  • Besoek die ToekomsVenster-inisiatief se webwerf vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.