ToekomsVenster: Gemak gevaar

baba-brug-teddiebeer

Foto: Pixabay/Pexels.com

“By die aanhoor van dié woorde het ek gaan sit en gehuil en dae lank getreur. Ek het gevas en tot die God van die hemel gebid … Stuur my na Juda toe, na die stad waar my voorvaders begrawe is, sodat ek die stad kan herbou.” – Nehemia 1:4 & 2:5b

Nehemia het tot God uitgeroep, maar nie slegs vir een dag nie; vir vier maande. Vir vier maande het hy vir God gevra om hom te wys wat hy moes doen. Hy het geweier om te ignoreer waarmee God besig was in sy hart, naamlik om terug te gaan na Jerusalem toe en die muur te herbou. Hy kon voortgegaan het met sy luukse leefstyl in Persië, maar sy hart was ’n 1 500 km ver. Sy hart was die hart van God. Ek glo God doen vandag nog presies dieselfde ding in die harte van Sy mense, en dit sluit jou in!

Dalk vra God jou om uit jou gemaksone te breek deur te begin met iets eenvoudig, soos om met iemand te gesels wat jy normaalweg sou ignoreer, jou bure oor te nooi vir ete, of dalk ’n kollega uit te neem vir middagete. Wat dit ook al is, moenie bang wees nie; God is op soek na mans en vroue wat ’n hart het vir Hom.

Dink hieraan

Suid-Afrika bied soveel moontlikhede, maar nie solank ons in isolasie en vervreemd van mekaar lewe nie. Daar lê ʼn roemryke toekoms vir almal voor, maar eers as ons mekaar in liefde aanvaar en omhels.

Christene veral word tot eenheid geroep. Jesus het daaroor en daarvoor gebid. Lees gerus Johannes 17. Die Psalmdigter sê dat God Sy seën gebied waar mense in eenheid saam woon en werk.

Hoe is jy vandag besig om ʼn brugbouer na ʼn nuwe toekoms te wees?

Gebed

Here, sal u asseblief my lewe na die volgende vlak neem? Ek wil uit die doolhof van my dooie lewe stap en my lewe gee vir iets groter as net myself. Roer asseblief my hart en help my om nie toe te laat dat vrees en gemak my lewe rig nie. Amen.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eish ·

Bitter waar woorde. Ek dink ook bitter min Afrikaanssprekende kerklidmate is nog in n gemaksone. Die werklikheid van ons omstandighede dwing ons om betrokke te wees. Wat egter n groot bekommernis is in die tyd is dat die kerk se profetiese stem doodstil is. Die gemaksone van bydraes wat die besigheid aan die gang hou maak die kerk stomp vir wat aangaan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.