ToekomsVenster: Gemeenskap van gelowiges


Foto: pixabay.com

Foto: pixabay.com

1 Korintiërs 14:26 Hoe moet dit dan wees broers? Elke keer as julle bymekaarkom, het elkeen gewoonlik ’n bydrae om te lewer: ’n Psalm, ’n onderwysing, ’n openbaring, ’n ongewone taal of klank of ’n uitleg daarvan. Sorg dat alles tot opbou van die gemeente verloop.

Die enkeling kan nooit volledig volgeling wees as hy / sy nie volgeling is saam met ander volgelinge nie. Dink aan die verhaal van die eerste gemeentes in Handelinge 1-2. Die woord wat die Bybel hiervoor gebruik is koinonia – die gemeenskap van die gelowiges.

Waarom is die gemeenskap van gelowiges so belangrik?

Die gemeenskap help met sinergie. Ons kan praat van die sinergie wat tussen mense ontwikkel. Dit beteken dat die kennis, insig en wysheid meer is as die somtotaal van die wat daar is. Ons sou met reg dit kon beskryf as 1+1=3. Die groep wat saam is, het altyd meer wysheid as die individu – hulle kan die gesprek met meer insig hanteer en lei. Ons sou dit ook so kon sê: in die kollektief (groep) lê meer wysheid as in die individu.

Die gemeenskap help met spesiale gawes. Die Bybel is duidelik wanneer dit beskryf dat, wanneer daar iemand in die groep in tale sou praat, daar iemand moet wees wat dit uitlê.

Die gemeenskap ontvang saam die Gees. Dit beteken dat die enkel gelowige versigtig moet wees om alleen aanspraak daarop te maak dat die Gees net met hom / haar gepraat het. Die Gees is aan die gemeente gegee en daarom moet die individu ook bevestiging in die gemeenskap van gelowiges kry oor wat hy / sy glo van die Heilige Gees af kom.

Gebed:

Here leer my dat ek nie alleen in hierdie wêreld is nie. Leer my om te besef dat ek nie sonder ander gelowiges my geloofsreis kan aanpak nie. Ek het hulle nodig. Amen.

Leefwyse:

Dink aan jou vriende en vriendinne. Dink bietjie oor hoe julle verskil. Skryf dit neer – die een is meer emosioneel, die ander wil weer stil word voor die Here, die ander wil net doen en jy, jy wil dalk alles rasioneel beredeneer. Dink jy dit dra by tot ’n beter verstaan van God?

Iets om vandag oor na te dink:

In ’n gemeente is daar verskillende mense. Die verskille is nie net in die geslagte (man en vrou) nie, maar ook in die ouderdomme. Daar is jonges en oues en middeljariges – elkeen het sy unieke bydrae wat hy/sy lewer op hierdie stadium van hulle lewe. Dit help en verryk die gemeenskap van gelowiges. Dink aan voorbeelde hoe die groot groep gehelp het om die stem van die Here duideliker te hoor.

ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.