ToekomsVenster: Genade onbeskryflik groot

(Foto: Lampos Aritonang/Unsplash)

Lied 510:

Genade onbeskryflik groot het

U aan my bewys:

verlore seun ʼn wegloopkind

weer in die vaderhuis !

 

Ek is die naam van kind nie werd

wou self my sake rel.

My lewe, kanse, tyd en geld

is nutteloos verspeel.

 

Maar U sien ver, oneindig ver.

U sien my honger, dors.

Want toe ek kom, my skuld bely,

druk U my aan die bors.

 

Genade onbeskryflik groot:

Daar’s fees, ek is weer tuis!

U Seun bring my verlore mens

weer na die vaderhuis.

Die bekende lied “Amazing Grace” word klaarblyklik meer as 10 miljoen keer jaarliks uitgevoer en verskyn op meer as 11000 musiek opnames. Die komponis, John Newton wat in 1725 gebore is, was ʼn slawehandelaar wat onverskillig en roekeloos gelewe het.

Tydens een van sy see reise het die boot bykans gesink. Newton het die Here aangeroep en vrag het wonderbaarlik in die stormsee rond geskuif en die instromende water gekeer. Dit het ʼn kentering in Newton se lewe teweeg gebring.

In 1764 word hy as leraar georden en skryf nie minder as 280 liedere wat tydens die erediens gebruik word nie. “Amazing Grace” komponeer hy in 1772.

Vier en dertig jaar later publiseer hy ʼn pamflet waarin hy sy aandeel in die onmenslike handel in slawe erken. Daarin skryf hy: “It will always be a subject of humiliating reflection to me, that I was once an active instrument in a business at which my heart now shudders.” In 1807 word slawerny onder William Wilberforce deur die Parlement in Groot Brittanje finaal afgeskaf. Newton sterf aan die einde van daardie jaar.

Is “Genade onbeskryflik groot”, “Amazing Grace” in Afrikaans, vir jou ʼn werklikheid of dalk net ʼn aangrypende lied maar waarvan die realiteit jou steeds ontgaan?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.