ToekomsVenster: Genadegawe

hande-kerse-kerslig-gebed

Foto: Myriams-Fotos/Pixabay.com

“Broers, ons wil hê julle moet weet van die genade wat die gemeentes in Masedonië van God ontvang het. … en al was hulle baie arm, hulle was ryk in hulle oorvloedige vrygewigheid.… hulle het na vermoë, ja bo vermoë, bygedra…” – 2 Korintiërs 8–9

Die gelowige onder genade het dus die vryheid om te gee soos hy of sy begelei word. Met dit in gedagte is dit ook belangrik om te verstaan dat gelowiges nie onder die wet van Moses is nie, maar wel onder genade (Galasiërs 3:1-25). Gelowiges vandag is onder die wet van liefde, ook genoem die wet van Christus. Die teksgedeelte dwing nie gelowiges om te gee nie, maar nooi hulle eerder om armes te ondersteun en so hul liefde vir God uit te druk.

Raak prakties

Om genadegawes te gee, is ’n natuurlike reaksie van liefde. Dus, om jou besittings te gebruik om behoeftige mense te ondersteun, moet vrywillig en spontaan wees en nie uit dwang nie. Verder is dit belangrik om al jou beloftes na te kom wat jy teenoor die Liggaam van Christus gemaak het. Wees sensitief vir die nood om jou en verheerlik God só met jou gehoorsaamheid.

Iets om oor na te dink

Onthou, jou bereidwilligheid en blydskap om armes te help is baie belangriker as die hoeveelheid wat jy gee. Ons gee uit reaksie teenoor wat Christus vir ons gedoen het en nie om voordeel daaruit te trek nie. Genadegawes is die werkbare krag van God se liefde wat deur die gelowiges se lewe werk om Sy werk te doen. Alle gelowiges, ryk of arm, het die geleentheid om genadegawes te gee.

Gebed

Baie dankie Here dat, alhoewel U ryk was, U ter wille van my arm geword, sodat ek deur U armoede ryk kon word. Lei my asseblief met my genadegawes om ook só uitdrukking aan U genade te gee.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.