ToekomsVenster: Geniet God se vrede

(Foto: Jannie Pelser)

En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus. – Filippense 4:7

Die foto’tjie het ek vroegoggend geneem terwyl die son oor die see opkom. Dit laat ʼn mens met ʼn gevoel van oorvloedige vrede.

Ek het dit al so dikwels gehoor dat mense sê: “Ek wil tog net vrede hê”.

Snaaks dat iets wat so geredelik beskikbaar is mense so ontwyk. Ek bedoel uiteraard die vrede wat God gee, vrede wat alle verstand te bowe gaan, wat anders is as die vrede wat die wêreld gee. Goddelike, bo aardse, hemelse, volmaakte, volhoubare en genadige vrede.

Elke mens wat ʼn versugting hierna het moet hom of haarself eerlike vrae afvra. As vrede jou kontinu ontwyk moet daar iets of iemand wees wat jou vrede steel, tensy dit jyself is. Ja, jy kan jou eie vredespad ondergrawe deur jou met allerlei leuens op te hou.

“Ek is nie goed genoeg nie, mense hou nie van my nie, niemand gee vir my om nie, die Here het my vergeet, daar is nie vergifnis vir wat ek gedoen het nie, ek verdien nie om te leef nie,” is van die aaklige leuens wat lewend gehou word in jou binneste. Niks daarvan is waar nie, inteendeel, net die teenoorgestelde is waar. “Jy is kosbaar en waardevol vir Hom” lui die bekende liedjie.

Die ander vredesdiewe moet gewoon nie die aandag kry waarop hulle aandring nie.

Onthou, mense wat opmerkings maak skinder veel meer van hulself as van jou. Alhoewel hulle blind is vir hul eie liefdeloosheid sien jy daar deur. Die Here sien ook daar deur.

Bid geduldig vir hulle en gaan aan met jou lewe.

Geniet God se vrede.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Strandloper

Dankie vir DIE vrede!