ToekomsVenster: Genoeg plek onder God se son

(Foto: Faris Mohammed/Unsplash.)

Steeds by my “see metafore” alhoewel hierdie scenario homself seker op enige plek kon uitspeel.

Ons het ʼn heerlike eenheid met ʼn pragtige uitsig oor die see. Die ruim stoep is lieflik toegerus en die ideale kuierplek later in die dag wanneer die ergste son verby is.

Op die stoep is daar ʼn eenheid wat water wegvoer. Ek hou nie van die woordjie “drein” nie, maar dit is seker maar wat dit is.

Die staal deksel, so groot soos ʼn standaard vloerteël is van yster en soos dit nou maar by die see gebeur, al redelik geroes en gehawend maar nie onveilig nie. Dit dien steeds sy doel.

Bokant die staalrooster steek daar vier of vyf kleinerige blaartjies van een of ander plantjie wat homself in die bietjie stof en sand wat in die plekkie is tuisgemaak het. Die holtetjie waar die plantjie sy wortels moedig inwurm kan nie veel substansie bevat nie maar dit is asof die plantjie sê: “gee my net ʼn kans om te leef”.

Ek herinner my uit my onderwysdae by Clapham High in Pretoria dat twee meisies blykbaar stry gekry het in die tik-juffrou se klas. Ek het later verneem dat die juffrou vir hulle gesê het: “daar is genoeg plek onder God se son vir julle albei”.

Genoeg plek onder God se son dat ons almal ʼn plekkie kan vind waar ons tot volle wasdom kan groei, waar ons kan ontdek wie ons is en waartoe God ons geroep het. Soos die plantjie wat met min tevrede is, vra mense nie veel meer as ʼn bietjie liefde, vertroue, leiding as dit kan en aanmoediging nie. Die meeste mense wag net op ʼn kans in die lewe en dit kom wanneer iemand anders ruimte maak in sy lewe en uitdrukking gee aan sy skeppings doel naamlik om ander na heelheid te begelei.

Ongelukkig het die lewe ʼn manier om af te knou, om ander stukkend te trap ten einde bo te kom, om ander ʼn plekkie te misgun, om eiebelang voorop te stel.

Dit is nie die voorbeeld wat die Here gestel het nie. Sy optrede is bekend. Hy stel Hom aan onsself bekend as die Dienaar.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie Here U het vir ons die pad kom loop, in U voetspore wil ek volg

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.