ToekomsVenster: Getuig van Jesus

(Foto: Carolyn V/Unsplash.)

Joh. 1:45-47 – Filippus kry toe vir Natanael en sê vir hom: “Ons het Hom gekry van wie Moses in die wet geskrywe het en van wie die profete ook geskrywe het. Dit is Jesus van Nasaret, die seun van Josef.” Maar Natanael sê vir hom: “Kan daar uit Nasaret iets goeds kom?” “Kom kyk,” het Filippus hom geantwoord. Toe Jesus vir Natanael na Hom toe sien aankom, sê Hy van hom: “Hier is ‘n ware Israeliet, ‘n man in wie daar geen bedrog is nie.”

Elke gelowige het die voorreg en verantwoordelikheid om van Jesus en sy verlossing te getuig. Ons het nie almal dieselfde gawes nie en die Here verwag ook nie dat ons almal met alles ewe gemaklik sal wees nie. Sommige gesels maklik en vrymoedig en ander is meer gereserveerd en inkennig. Dit is nie goed of sleg nie, dit is menswees soos God dit bedoel het.

Ai, die skuld gevoel wat meestal met ons saamreis omdat ons nie dinge so gemaklik en goed as ander kan doen nie. So onnodig maar ons val maklik voor die versoeking om te vergelyk en skuldig te voel.

Neem sommer nou ʼn besluit dat jy klaar is met onnodige, krapperige en ontmoedigende skuldgevoelens.

Die verantwoordelikheid en voorreg om vir Jesus te getuig is daarmee nie opgeskort nie. Elkeen doen dit op ʼn wyse wat by hom pas solank ons op die een of ander wyse uitdrukking gee oor die hoop wat in ons lewe.

In hierdie gedeelte vertel Filippus vir Natanael van Jesus van Nasaret. Natanael is nie dadelik ontvanklik nie en skroom nie om sy voorbehoude te verwoord nie. Wat hom betref kan niks betekenisvol van Nasaret verwag word nie.

Dit is ʼn onindrukwekkende gemeenskappie en boonop in Galilea. Die noordryk met sy kosmopolitiese samelewing is nie vry van heidene invloede nie.

Natanael tree op soos so baie van ons. Enige boodskap moet eers deur ʼn verskeidenheid van voorbehoude filtreer voordat dit by ons harte kan uitkom. Die onderbou van dit alles is vrees en hoogmoed en die onderbou daarvan is die bekende spreekwoord, onbekend maak onbemind.

Kom ons wees nie soos Natanael met al sy voorbehoude nie maar kom ons glo eerder die beste van mekaar.

Wees ook gereed om ander van Jesus van Nasaret te vertel, op die manier en wyse wat die Here jou toegerus het.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Mary Charlotte ·

Baie dankie , het vandag dié boodskap nodig gehad !!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.