ToekomsVenster: Gevul met krag en liefde

vrou_vrede_natuur_sonsopkoms_stiltetyd_pixabay.jpg

(Foto: Pixabay)

Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing. – 2 Tim. 1:7

Ons het die Gees, of liewer, die Gees het ons. Ons verstaan egter wat Paulus bedoel in en deur die werking van die Heilige Gees het ons die gesindheid van Jesus. Ons openbaar sy karakter in en deur ons optrede. Ons lewenswandel gee blyke daarvan dat ons Godsgesante is. Hy woon en werk in en deur ons.

Ons is syne.

Die wêreld is maar ʼn onveilige plek. Ons staan soggens vol vertroue op, maak gereed om werk toe te gaan of klas by te woon en groet mekaar by die deur en sluit agter ons. Ons aanvaar dat ons namiddag mekaar weer sal sien en sal aangaan waar ons opgehou het.

Die gevaar is groot dat ons die lewe en die verloop daarvan as vanselfsprekend kan neem.

Niemand wil voortdurend herinner word aan die kortstondigheid en voorlopigheid van alles nie, inteendeel. Ons lewe uit vertroue dat God ons pad uitgelê het en dat Hy ons ongeskonde by Hom sal bring.

Die onsekerhede van hierdie lewe kan ʼn mens bang en beangs maak, trouens daar is baie mense wat so lewe.

In hierdie byna post Covid-19 fase waarin ons onsself bevind tree die een na die ander geestesongesteldheid na vore. Die trauma lê vlak in die geheue van mense en naakte rou smart kom te voorskyn sodra mense tot stilstand kom. Ons sal dit moet verwerk, individueel maar ook as gemeenskap in Suid-Afrika.

Daar is inderwaarheid nie ʼn enkele huishouding wat nie op die een of ander wyse deur die pandemie geraak is nie. Ons weet almal van ʼn bekende in eie kring wat gesterf het, ander wat tot die dood toe siek was en vir hul lewens geveg het. Sommige mense wonder steeds wanneer hulle aan die beurt gaan kom.

Die eensaamheid wat die siekte teweeggebring het, is wreed en onmenslik. Mense het alleen gely en alleen gesterf. Daar was nie afskeid, laaste woorde van waardering, troos, selfs vergifnis is nie afhandel nie. Alles hang steeds in die lug.

Gemeentes het ʼn grootse verantwoordelikheid om geleenthede te fasiliteer waar hierdie angs aangespreek kan word. Mense moet die geleentheid gebied word om hul stories te vertel, dit is terapeuties en bring perspektief.

Al hierdie dinge ten spyt weier ons om ons lewens in onsekerheid, angs en vrees deur te bring.

God het ons nie ʼn gees van lafhartigheid gegee nie.

Om te treur, afskeid te neem en afsluiting te kry selfs met die hulp van ʼn professionele persoon is nie ʼn uitdrukking van lafhartigheid nie. Nee, veel eerder ʼn geloofsdaad, ʼn daad van dapperheid en waagmoed.

Waar staan jy tans wat jou geestelike en emosionele welsyn betref? Mag jy daarvan daadwerklik werk maak, moenie uitstel nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.