ToekomsVenster: Geweld en bloedvergieting

geweld

Foto: Tookapic/Pexels.com

Lees: Habakuk 1:2-4:

“2 Hoe lank moet ek om hulp roep voordat U hoor, Here, moet ek by U bly kla oor geweld voordat U red? 3 Waarom laat U my die onreg sien wat gedoen word, waarom kyk U toe as daar soveel ellende is? Oral rondom my is daar onderdrukking en geweld, en word daar getwis en gebaklei. 4 Die wet het nie meer krag nie, en daar geskied nie meer reg nie. Slegte mense het die oorhand oor die goeies, en so word die reg verkrag.”

Ons weet waarvan die profeet Habakuk gepraat het. Ons leef ook in ’n gewelddadige samelewing. Ons hoef nie eers na statistiek en koerantberigte te vra om dit te bewys nie. Ons almal ervaar dit elke dag. Baie van die geweld vind binne gesinne plaas. Verkragtings, kindermishandeling, dronkenskap, dwelmmisbruik en die vernedering van huweliksmaats, is aan die orde van die dag. In die strate daarbuite, in die dorpe en op die plase, is dit eens so erg. Geweld wat uitloop op bloedvergieting, moorde – dikwels met die vreemdste motiewe – vind elke dag plaas. ’n Mens se lewe het goedkoop geword – soveel werd as ’n selfoon of ’n bottel drank. Om in so ’n samelewing oor vrede en versoening en genesing te praat, is moeilik. Elke gesinsmoord, elke kind wat wegraak, elke roofaanval op die hoek van die straat, elke plaasaanval, maak dat mense kwaad word, of moedeloos, gereed om hul hande in die lug te gooi, of om self wraak te neem.

As ons glo dat Jesus die Vors van vrede is, moet ons in ons land ’n duidelike “Nee!” laat hoor teenoor geweld. In Jesus se koninkryk is daar nie plek vir haat en nyd en bloedvergieting nie. “Nie deur krag en geweld nie, maar deur My Gees, sê die Here.” Maar terwyl ons oor al die dinge nadink, pas dit ons om self weer ’n keer voor die spieël te gaan staan. Hoeveel geweld en woede is daar nie in ons eie harte, wat ons voor die Here moet bely nie?

Gebed:

O Here, ons staan skuldig voor U. Ons is medeaandadig aan wat in ons land gebeur. Ons bely ons deel aan die onreg van die verlede, aan die skreiende ongelykheid en pyn van die hede. Vergewe ons! Gee ons die krag en die moed om “nee” te sê wanneer dit nodig is en met ons hele hart “ja” te sê en aan te meld wanneer daar oor vrede en genesing gepraat én beplan word.

Leefwyse:

Ons land het mense nodig wat in hul eie kring met integriteit, liefde en regverdigheid optree. Dit maak ʼn groot verskil. Sulke mense is sout vir die aarde en ʼn lig in ʼn donker land.

Om oor na te dink:

Weet jy van ʼn persoon of persone wat besig is om iets aan die onreg en pyn in ons land te doen om die bloedvergieting te stuit? Bel hulle of skryf aan hulle en moedig hulle aan. En besluit om self by die korps van vredemakers aan te sluit!

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.