ToekomsVenster: Gewoond aan God

Argieffoto (Foto: H Shaw/Unsplash)

Mens beny mense dikwels wat by die see bly en wanneer jy dit vir hulle sê reageer hulle deur te sê: “ag, ons sien dit nie eers meer raak nie. Ons was wie weet hoe lank gelede by die see”.  Julle weet wat ek met “by die see” bedoel.

Terwyl vakansiegangers honderde en selfs duisende kilometers aflê om ʼn week of twee by die see uit te span, vlug die plaaslike inwoners weer na die binneland. Wie wil nou die binneland kom besoek, as die see om jou voorstoep lê, sou ʼn mens kon vra. Nietemin, om by die see te kuier, is vir die Gautengers pure lekkerkry, die humiditeit en erge hitte ten spyt. As jy boonop huiswaarts kan keer met ʼn effens bruingebrande vel kan jy jou verlekker as mense dit opmerk.

Ai, menswees darem.

“Gewoond aan die see?”

Jy sê dit kan nie maar dit gebeur.

Gewoond aan God, jy sê dit kan ook nie, maar dit gebeur tog soms.

Die groot gevaar van ons belewing van God is dat ons die gawe van die ewige lewe, verlossing, die Woord en Gees as vanselfsprekend kan aanvaar. Die wonder van in verhouding staan met hierdie manjifieke wese wat ons God noem, het by sy kinders verbygegaan.

Stadig neem ʼn mens dan ook afskeid van God totdat die nare werklikheid jou weer terugruk en jy jou afhanklikheid in alles van God weereens besef.

Ons is nie veronderstel om skoppelmaai Christene te wees nie. Vandag naby en môre ver. Vandag verwonderd en môre gewoond. Vandag dankbaar en môre traak-my-nie-agtig.

Nee, soos in Elia se tyd het ons ʼn ervaring van God nodig wat ons luidkeels laat uitroep: “die Here is God, die Here is God”.

Gewoond aan dié see van God se genade?

Tyd om weer bewus te word van sy heerlikheid.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.