ToekomsVenster: Gideon se roepingsverhaal


gideon

Foto: UBDavid.org

Lees: Rigters 6

Nou wonder ek hoe die naamlys sal lyk van moontlike kandidate om Israel uit hierdie penarie te red? Dalk Captain America of Ironman? Maar Gideon? Glad nie! Die Engel van die Here loop hom raak waar hy ʼn koringaar in ʼn parskuip uitslaan… waar hy wegkruip vir die Midianiete. Dit sê darem iets van Gideon se vindingrykheid, maar bangbroek, dít was hy! Wat opval is Gideon se verskonerige houding – 6:13, “Ekskuus, Meneer…”, en 6:15, “Ekskuus, Meneer, waarmee sal ek die Israeliete gaan red? Die familie waaraan ek behoort, is die armste in die hele Manasse, en van my pa se kinders het ek die minste aansien.” Ek verbeel my dat ek iewers gelees het dat een of ander Nederlandse vertaling dit het dat Gideon hier na homself as ʼn botterkop verwys.

Dit maak dit soveel meer opmerklik hóé die Engel van die Here Gideon aanspreek toe dié aan Gideon in Ofra verskyn: “Die Here is by jou, dapper man”; die Engelse vertalings het dit dikwels as “mighty warrior.” Dis nogal ʼn opmerklike verskil, nè? Mighty warrior en botterkop! Nou wonder ek hoe Gideon se familie na hom gekyk en oor hom gepraat het … botterkop, die een met die minste aansien? En dat dit ʼn Engel van die Here kos om by hom op te daag en aan hom te openbaar hoe die Here na hom kyk; aan hom openbaar wat die Here in hom sien! ʼn Mighty warrior en nié ʼn botterkop nie!

Iets om oor na te dink

Dink bietjie hieroor… Gideon, met ʼn skrale bende van 300 man, verslaan die magtige Midianiete. Wanneer ʼn mens na Israel se sege kyk, kan daar geen twyfel wees oor wie die oorwinning bewerk het nie! Geen twyfel dat die eer die Here toekom nie! Hoe dikwels klop ons onsself op die skouer, en hoe dikwels bring ons alle eer aan Hom vir die deurbrake en oorwinnings?

Gebed

Here, dankie dat Christus, u Gees en Woord in ons lewens opdaag en Ú visie van ons aan ons openbaar. Amen.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.