ToekomsVenster: Glans van ’n nuwe dag

(Foto: Leon Biss/Unsplash)

Nasies kom na jou lig toe en konings na die glans van die nuwe dag wat vir jou aangebreek het. – Jesaja 60:3

Vandag is Maandag. Dit is die begin van ʼn nuwe week, suiwer genade.

Ons is nog hier om die gawe van ʼn nuwe dag en ʼn  nuwe week te beleef en te waardeer. Afhangend van jou ingesteldheid kan dit net nog ʼn dag wees, een soos gister en eergister en die dag voor dit. Vir die meeste van ons loop en verloop elke dag min of meer soos die vorige. Die noodwendige voorspelbaarheid van opstaan, gereed maak vir werk, besig wees met jou verantwoordelikhede daar, huis toe gaan, enkele woorde met jou gesinslede en skoene uitskop voor die TV totdat die vaak jou oorval, net om more weer dieselfde voorspelbare en verbeeldinglose roetine te beleef. Uiteraard laat dit nie reg geskied aan die gawe wat God gee wanneer Hy ons seën met ʼn nuwe dag nie.

Ek hou van die woord “aangebreek” in die teks. Dit is asof ʼn  geleentheid om diensbaar, dankbaar, vervuld, betekenisvol voor jou oopgebreek word. Iemand is juis in die volheid van die tyd gebreek sodat elke dag soos ʼn  skoon lakei voor ons geplaas word en ons uitgenooi word om entoesiasties daarop te skryf.

Die teks praat ook van die “glans” van die nuwe dag.

Sonsopkoms is so ʼn pragtige tyd van die dag. As die eerste strale hul verskyning maak, die nag verdryf word en die belofte van ʼn  glansryke dag voor jou oopvou kan ʼn  mens nie anders as om met oopgesperde arms te ontvangs en te omarm wat God in daardie dag verpak het nie.

Hy is die Gewer van goeie dinge. Selfs al sou die dag nie heeltemal verloop soos jy dit sou wou gehad het nie, is daar steeds rede om Hom te loof en te prys. Ons is immers meer as oorwinnaars in Christus Jesus.

Gebed:

Ek dank U Here vir ʼn nuwe dag. Ek omarm die glansheerlike belofte daarvan. Bekwaam my deur die Heilige Gees om U nie teleur te stel nie. Amen

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.