ToekomsVenster: God antwoord sonder voorwaarde


see_rotse_kaap_stiltetyd.jpg

Foto: Suné van Heerden

ʼn Pelgrimslied. In my nood het ek na die Here geroep en Hy het my gebed verhoor. – Psalm 120:1

Tussen “ek het die Here aangeroep” en “Hy het my gebed verhoor” is daar nie eens ʼn komma nie.

Die eenvoud van ʼn benoude geroep na God het sy Hand (onmiddellik) in beweging gebring en reddend laat ingryp.

Ons plaas graag ʼn komma ná die eerste deel van die sin. Ek het die Here aangeroep, baie beloftes aan Hom gemaak, ʼn paar profete gekonsulteer, verskeie kere die erediens bygewoon, ʼn paar mooi en verdienstelike dinge vir ander mense gedoen, diep nagedink oor my sondes en dit met trane bely, teruggedelf in my verlede om te sien waar vloeke nog vassteek, my ouma, oupa en ver-terug-familie se onverskilligheid bely … en toe het die Here geantwoord.

Daarmee wil ek nie sê dat enige van genoemde aktiwiteite nie meriete het nie. Goed waarvan die Heilige Gees ʼn mens oortuig, moet in die reine gebring word. God verwag dit van ons.

Tog word hier nie daarvan melding gemaak nie. Toe die digter roep, antwoord God, sonder voorwaarde, sonder manipulasie of voorbehoud. Daar is ʼn aangrypende gedeelte in 2 Samuel 22. Lees dit gerus. God is ʼn toevlug in die nood. ʼn Rots wat altyd vas by ons staan.

Van bo af het Hy sy hand uitgestrek en my gegryp, my uit geweldige waters uitgelig. – 2 Samuel 22:17

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.