ToekomsVenster: God bly altyd in beheer


lente-bloeisel

Foto: Pixabay.com

Die Here is in Sy heilige tempel!  Die Here is op Sy troon in die hemel!  Sy oë is oop, Sy oë keur die mensekinders. – Lees Psalm 11:4

Die feit dat ons buite beheer voel beteken nie dat God beheer verloor het nie.  Somtyds is die beste plek om te wees juis die ervaring van magteloosheid.  Dit is in sulke omstandighede dat ons mees ontvanklik is om die nuwe wat God vir ons in gedagte het, te ontvang. (Jes. 43:19 – Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom; Ek maak in die woestyn ‘n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring)

Selftevredenheid en vergenoegdheid met jou eie prestasie en manier van dinge doen is kitsresepte vir hard val. Daar behoort altyd ʼn bewussyn van jou eie onmag en gebrokenheid te wees.  Nie ʼn goedkoop advertensie van alles wat verkeerd is in jou lewe nie, maar ʼn erkentlikheid dat jy nie alles weet, verstaan en onder beheer het nie.

In tye van teleurstelling en verydelde drome wonder ʼn mens somtyds oor God se bedoeling met jou lewe.  Negatiewe vrae en gedagtes wel in jou op, wat as dit nie reg kanaliseer word nie, jou in ʼn gat van depressie en uitsigloosheid kan laat beland.

Die digter herinner ons dat God nie beheer verloor net omdat ons lewens buite beheer geraak het nie.  As soewereine God is Hy stewig op sy troon en sal altyd daar wees.  Hy raak nie ontsteld en ontwrig deur die goed wat ons so op hol jaag nie.

Dit beteken nie dat ons seer Hom nie raak en dat Hy ongeërg daarteenoor staan nie.  Inteendeel, God deel ons hartseer en gebrokenheid.  Die kruis is daarvan die beste illustrasie.

Dit help darem ook om te weet dat God nie langs ons in ʼn hopie intuimel elke keer as ons in die noute verkeer nie. Dit sou ʼn troostelose situasie wees as God ewe desperaat en uitsigloos as ons voel.  Nee, Hy is en bly op die troon, ʼn metafoor wat getuig van sy absolute en totale beheer en insig in elke situasie.  Rus vandag in daardie wete.

  • Besoek die ToekomsVenster-inisiatief se webwerf vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Petro Bezuicenhout ·

Om hierdie waarheid weer te lees versterk die geloof en vertroue in ‘n Alwetende Vader Wie se Seun vir ons intree by Sy Vader.Wat ‘n troos!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.