ToekomsVenster: God gee gestalte daaraan

(Foto: Markus Spiske/Unsplash)

Maar iemand kan vra: Hoe word die dooies opgewek? Watter soort liggaam sal hulle hê? Dis ‘n dom vraag! Wat jy saai, kom nie tot lewe tensy dit eers sterwe nie.En wat jy saai, saai jy nie in die toekomstige gestalte daarvan nie, maar as ‘n blote saadkorrel, of dit nou koring is of iets anders. Maar God gee ‘n gestalte daaraan, soos Hy bepaal het; aan elke saadsoort gee Hy ‘n eie gestalte. – 1 Kor.15:35-38

Nou is die vraag hoe sal die opstandingsliggaam wees? Paulus gebruik metafore meesterlik en ook hier uiters effektief en bekwaam. Hy sluit by die natuurlike lewe aan om ʼn bo aardse, geestelike realiteit te verduidelik.

Mens saai nie in die toekomstige gestalte nie, verduidelik Paulus. Wat gesaai word, is wêrelde verwyder van wat na vore tree.

Miskien is jy ʼn kranige tuinier met die spreekwoordelike “groen vingers”. Dit is my nie beskore nie maar ek krap tog graag in die tuin. Van jongs af het ek allerlei groente geplant en in verwondering gestaan by die grootsheid van dit alles.

Neem as voorbeeld ʼn gewone saadjie. Dit is regtig onaansienlik, gering en gewoon. Trouens, as die saadjie op die grond beland voordat jy dit geplant het, is dit nogal ʼn uitdagende proses om dit weer op te spoor.

Jy wys nie die saadjie aan iemand anders om te bewonder nie. Jy stal die saadjie nie in jou huis op die etenstafel uit nie. Die saadjie is weglaatbaar gewoon en klein. Selfs die eerste verskyning van lewe verskil al dramaties van dit wat jy geplant het, dit is nou as die saadjie tyd gegun word om te ontkiem. Ek is veels te ongeduldig en grou binne ʼn dag of drie om te sien of daar al lewe is.

Namate die nuwe skepping gestalte kry word jy beïndruk deur die gestalte daarvan. As dit later blom of vrug dra, is die vreugde nog groter.

Uiteraard is die DNS van daardie plant of gewas in die saad wat gesaai word. Daar is sprake van kontinuïteit. Tog is dit ook radikaal anders. Presies hoe dit van toepassing is met betrekking tot die mense word in die volgende verse uitgewerk. Genoeg om vir nou raak te sien dat dit wat gesaai word, ons dooie liggame en dit wat opgewek word, ons verheerlikte liggame, merkwaardig van mekaar verskil.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.