ToekomsVenster: God gee ʼn geskenk


Foto: Juanita Badenhorst.

Jesaja 9:5 – “Vir ons is ‘n Seun gebore, aan ons is ‘n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors.”

Om ʼn geskenk te ontvang, is ʼn heerlike ervaring. Ek dink alle mense hou van geskenke.

Wanneer ʼn mens vir iets gewerk het, is dit nie ʼn geskenk nie. Dit is ʼn beloning vir dienste gelewer, prestasie behaal, en dies meer.

Geskenke is soos genade: Dis verniet.

As iemand jou nader met ʼn geskenk in die hand is ʼn mens se eerste respons gewoonlik, “wat het ek gedoen om dit te verdien”?

Die ander persoon sal dan as volg kon reageer:

“Nee, jy het niks gedoen nie; ek het sommer aan jou gedink.

“Ek het in die winkel gestap en hierdie item gesien en gedink jy sal daarvan hou.

“Nee, ek gee dit sommer net om daarmee te sê dat ek van jou hou, jou liefhet, jou waardeer, jou op die hart dra.”

Mens werk nie vir ʼn geskenk nie; jy werk vir beloning.

In die volheid van die tyd het God ons kom bederf met ʼn geskenk uit die hemel: Sy eie Seun en die verlossing wat Hy vir ons kom bewerk het.

Die Vader gee sy Seun as ʼn gawe aan die wêreld.

Nie omdat die wêreld of enige iemand daarin dit verdien nie, maar net omdat God die wêreld liefhet. Trouens, so leer Johannes 3:16 ons mos. Die wêreld kan die Seun nooit verdien nie. Ons beste pogings is soos ʼn wegwerplike kleed, sê die Bybel.

God sê as’t ware: “Ek gee aan jou my Seun, die Ewige lewe, net omdat ek van jou hou. Ek het aan jou gedink. Ek waardeer jou en wil jou bederf.”

Sonder hierdie bederf is ons verlore.

Ek is so bly God het aan ons gedink!

Ek is seker jy is ook!

As ons dan gisteraand of vandag geskenke uitruil, word ons herinner aan die grootste geskenk van alle tye: Die Seun van God in ons harte en lewens.

ʼn Baie, baie geseënde Kersfees word jou toegewens.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.