ToekomsVenster: God het die mens gemaak

(Foto: Ante Hamersmit/Unsplash)

Toe het God gesê: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld …” – Gen.1:26

Ons het vroeër die maand Menseregte dag gevier. Uiteraard is onsself die beste verwysingsraamwerk wat ons het. Menswees is eie aan ons. Dit is wie ons is. Sou ʼn mens dan met ʼn stukkie papier en ʼn pen begin rond krabbel wonder ek watter gedagtes by elkeen sou opkom.

God het aan die begin gesê, “kom ons maak mense” (die mens). Die res van die vers sal ons nog bespreek maar kom ons gaan net eers sover.

“Kom ons maak mense”.

Nie robotte, masjiene, diere, voëls of visse nie, maar mense. Ja, God het ook die res geskape, die ganse geskape werklikheid besing die merkwaardige werk wat Hy deur ʼn enkele woord te spreek tot stand gebring het.

Hy het net gesê laat daar wees en dit was so.

Volmaak, bewonderenswaardig en uitsonderlik. Toe Hy egter by die mens kom gebeur daar iets. ʼn Voorneme word uitgespreek, ʼn gedagte wat met instemming begroet word.

Daar is naas mense nie ander kategorieë van lewe wat met ons vergelyk nie. Daar is nie mense en submense, minderwaardige, beter of slegter, meer uitsonderlik en minder besonders of enige iets dergeliks nie. Net een term waarmee hierdie spesie beskryf word en dit is mense.

Wat sou die implikasie wees vir die wyse waarop ons oor mekaar praat en aan mekaar dink, die wyse waarop ons met mekaar omgaan, die ingesteldheid wat ons teenoor mekaar openbaar .

Sou dit nie ten minste impliseer dat ons mekaar met deernis begroet nie, dat ons wat weet hoe dit voel om ʼn mens te wees met ander mense simpatiek en waarderend sou omgaan nie.

Miskien is dit genoeg om oor na te dink vandag. Net dit; “kom ons maak mense”.

Ek is ʼn mens en jy ook. Ons het dit met mekaar in gemeen.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Here ek dop hierdie toets….help my om so te leef dat ek U daardeur vereer…Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.