ToekomsVenster: God het nog nie moed opgegee met SA nie

boekevat_bosveld_sonsopkoms_ReintDykema_vra-eers-toestemming.jpg

(Foto: Reint Dykema)

“Daar is ʼn toekoms vir jou nageslag, sê die Here, jou kinders sal na hulle besitting toe terugkom.” – Jeremia 31:17 (AFR83)

Wat ʼn merkwaardige teks, ja ʼn teks wat in konteks gesien moet word.

Tans is ons nie op ʼn goeie plek in Suid-Afrika nie. Veral ons jongmense word aan onuithoudbare hoë vlakke van werkloosheid en gepaardgaande armoede blootgestel. Ons kinders se drome lê aan skerwe en ons harte bloei vir hulle.

Omdat geleenthede nie bestaan nie, besluit baie van ons jongmense om eerder moontlikhede in die buiteland te ondersoek. Die wêreld is plat en het klein geword. Ver is nie meer só ver nie. Sommige ouers getuig dat hulle hul kinders meer sien nou dat hulle in die vreemde sit as toe hulle in Suid-Afrika was.

As ouers kon kies sou dit tog sekerlik wees om hul kinders en kleinkinders naby te hê. Die belangrike rol wat veral kleinkinders in die lewe van grootouers speel, is bekend.

Die vraag is hoe ons dink oor die toekoms van ons mooi land en sy mooi mense.

Gaan ons die land spreekwoordelik op ʼn skinkbord weggee aan die magte van die duisternis of gaan ons alles in die stryd werp om hierdie land te red van die afgrond waarop dit oënskynlik op weg is?

Daar is vir die wat wil sien reeds merkwaardige dinge besig om te gebeur. Volgende jaar se nasionale verkiesing mag veranderinge bring. Baie meen volgende jaar is te gou, maar met die volgende algemene verkiesing sal die bordjies verhang word.

Koalisie-politiek is die nuwe spel wat gespeel gaan word.

Hoe posisioneer jy jouself met betrekking tot hierdie realiteite?

Heel konkreet, neem jy kennis van wat aan die gebeur is, is jy ʼn medewerker om omstandighede te verbeter, is jy deel van die probleem of van die oplossing?

Nog meer, het jy die verwagting en oortuiging dat die Here met hierdie land en sy mense op weg is?

Kyk weer na die aangehaalde teks. Dink jy dit kan betrekking hê op ons land?

Hoe laat die gedagtes van jou kinders wat na hul besitting toe terugkom jou voel?

Ek vind dit buitengewoon aantreklik en opwindend. Ek dink nie God het met ons opgegee in Suid-Afrika nie.

Ek dink, nee ek glo, dat hy nog ʼn besonderse plan het met hierdie land en sy mense, meer nog, met jou en my en ons kinders.

Glo jy dit?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Chris ·

Die land word nie aan die magte van die duisternis oorgegee nie, dit is reeds lankal gedoen. Ons word nou “getoets” hoe om dit te verwerk en hanteer. Daar is net een heel eenvoudige manier. Gaan op ons knieë, smeek God om vergifnis, genade en kwytskelding. Verootmoedig onsself voor Hom vra leiding en insig hoe om Hom te behaag. Loof en prys Sy grootheid en almag. Dan dink ek sal Hy miskien Hom oor ons ontferm. Op die stadium is ons nie waar ons behoort te wees nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.