ToekomsVenster: God is altyd relevant

(Foto: Christopher Sardegna/Unsplash.)

Jesaja 48:1-3,6 – Luister, nageslag van Jakob, julle wat julleself Israel noem en wat uit Juda voortkom, julle wat in die Naam van die Here ‘n eed aflê en die God van Israel aanbid, maar nie eerlik en opreg nie; julle noem julleself na die heilige stad en julle maak staat op die God van Israel, op Hom wie se Naam die Here die Almagtige is. Luister hierna: Ek het wat vroeër gebeur het, lank tevore reeds aangekondig, uit my mond is dit gehoor, Ek het dit bekend gemaak. Toe het Ek dit skielik laat gebeur. 6 – Julle het dit alles gehoor, julle kon dit alles self sien, sal julle dan nie daarvan getuig nie? Van nou af laat Ek julle nuwe dinge hoor, dinge wat verborge was, waarvan julle niks geweet het nie.

Jesaja maak meermale gewag van die “nuwe ding” wat God gaan doen.

Die drie-enige God vir wie ons dien is relevant tot die tyd waarin ons lewe.

Die Heilige Gees het nie ʼn probleem om die Evangelie in eietydse idioom te giet nie. Hy is nou hier, by ons, werksaam op so ʼn wyse dat ons dit kan verstaan.

Die verskil tussen ʼn “graf en groef” word gesê is die diepte. Die geloofsgemeenskap moet voortdurend daarteen waak om nie in ʼn groef te verval nie. Die wêreld smag steeds na sin en betekenis soos mense van alle tye. Hulle hoor egter net as gelowiges praat soos mense wat hier en nou leef.

Verandering beteken nie dat grondwaarhede noodwendig nek omgedraai word nie. Jy kan verander in jou benadering en steeds vashou aan wat as waar en seker gereken word.

Die tyd waarin ons leef is ʼn gevallestudie. Daar word onomwonde van die “nuwe normaal” gepraat. Alle samelewingsverbande moes en is in die proses om dramatiese skuiwe te maak ten einde relevant te bly. Ook die kerk soos ons dit ken moes en is steeds besig om belangrike skuiwe te maak.

Ek glo dat agendas wat voor Covid-19 as belangrik beskou is herbesoek en beoordeel word in die lig van die lesse en ervaring wat ons nou te beurt geval het.

In ons generasie se bestaan op aarde het dinge nog nooit so grondiglik geskuif, as juis nou nie.

God staan nie verleë hierteenoor nie.

Ek wil dit waag om te beweer dat God aan die voorpunt van verandering staan. Hy is dinamies en eietyds. Hy is opwindend, vars en nuut met hierdie werklikheid op weg na die vervulling van sy wil.

Uiteindelik breek die Koninkryk in volheid deur as ʼn vergestalting van die nuwe. Ons word verander en sal uiteindelik as radikaal veranderde mense voor Hom staan.

Ons moet nie blind wees vir waarmee God tans besig is nie. Daar is baie geskenke met Covid-19 gegee. Nadenke laat ʼn mens besef dat Covid-19 ons daarby gebring het om die lewe weer in oënskou te neem, belangrike vrae te vra en ou antwoorde te heroorweeg.

Die skepping en skepsel het tot rus gekom. Die natuur het begin leef en die gawe wat God gegee het het begin manifesteer in goeie dade van mededeelsaamheid.

Verwelkom die nuwe, moet nie bedreig voel daardeur nie.

Hoog bo die geruis van baie waters troon die Here in sy Koninklike mag en majesteit.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.