ToekomsVenster: God is goed, altyd goed


blydskap

Argieffoto.

Here, U liefde reik tot in die hemel, U trou tot in die wolke. – Lees Psalm 36:6

Die digter kan byna nie woorde vind om die omvattende en alles insluitende goedheid van die Here onder woorde te bring nie.  Die hemel en wolke daarbo, die berge rondom, die dieptes van die see, alles getuig, God is goed, Hy sorg.

Dit herinner my aan die bekende teks in Romeine 11:33.

O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God!  Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë!

Jesaja gebruik dikwels water, reën en strome as metafore van God se vernuwende en herstellende teenwoordigheid.  Strome van goedheid getuig van ‘n reserwelose vloei van genade.  Dit herinner my weer aan die aangrypende teks in Esegiël waar die water onder die drumpel van die Noordpoort uitborrel en toeneem in intensiteit en volume.  Dit gee aanleiding tot ʼn ontwaking in die natuur totdat dit selfs die Dooie See in ʼn lewensgewende watermassa verander.  Esegiël 47:1.

Die man met die meetstok het my teruggebring na die ingang van die tempel toe.  Toe sien ek daar kom water onder die tempel se drumpel uit aan die oostekant.  Die tempel het oos gekyk.  Die water het regs van die tempel weggeloop, suid van die altaar verby.

God is goed, altyd goed, sing ʼn liedjie.  Borrel vandag oor van sy liefdevolle omgee in jou lewe.  Gee Hom die erkenning en dankbaarheid wat pas by sy grootheid en almag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.