ToekomsVenster: God is heilig


nuwe-dag-nuwe-persoon

Argieffoto.

Prys die Here om die eer van sy Naam! Buig voor die Here by sy heilige verskyning. – Lees Psalm 29:2

God is heilig. Hy is in alle opsigte nie soos mense nie. Hy is in alle opsigte nie soos sy skepping nie. Hy is in alle opsigte verhewe, groter, heerliker en sterker. Hy is die gans andere, ʼn mooi woord wat beteken dat Hy radikaal anders is as alles en almal.

Die Bybel bevat baie verhale van mense wat ʼn ontmoeting met God gehad het (teofanie, ʼn Godsverskyning). Een so ʼn geleentheid was by Sion met die gee van die dekaloog (tien gebooie) aan Moses. So ʼn Godsverskyning het dikwels gepaard gegaan met natuurverskynsels. In hierdie geval rammel die berg, daar is rook en vuur, harde geluide en weerlig. Die volk was so geïntimideer deur hierdie gebeure dat hulle by Moses gepleit het dat God nie direk met hulle praat nie.

Nuwe Testamentiese word ons in God se allerheiligste teenwoordigheid ingenooi. Dit verander niks aan sy heiligheid nie.

Ek het ʼn gevoel dat ons iets van die vrees van die Here verloor het. God word so deel van ons ruimte ervaar (en Hy is deel) dat ons familiêr word met Hom. Die wyse waarop mense bid laat ʼn mens soms ongemaklik voel.

Daar is ʼn wesentlike verskil tussen God en mens. Sy heiligheid kan nie onder woorde gebring word nie. Ons is voorlopig, dikwels sondig, nietig, beperk en onheilig.

Dan weer die verrassende dat God sulke beperkte mense met heiligheid benoem. So word ons aangespreek in die Nuwe Testament veral, koninklik, afgesonder, priesters, profete, konings, eiendomsvolk, opregtes, regverdiges.

Daar is egter sprake van ʼn “alreeds en nog nie”. Ons leer om te wees wat God sê ons is en moet wees. Hy is dit reeds in alle opsigte. Laat ons sy heiligheid nie vergeet nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.