ToekomsVenster: God is hier teenwoordig

vrou-bid-gebed

(Foto: Ben White/Unsplash)

“God is hier teenwoordig

Laat ons biddend nader

Hier waar ons voor Hom vergader”.

Gesang 311:1

Dit is so ʼn mooi lied wat dikwels in die erediens maar ook enige tyd en enige plek gesing kan word.

Bedink dit vir ʼn oomblik. Hy is hier by my en daar by jou. Hy is in raadsale, lesinglokale, inkopiesentrums, by bidure, begrafnisse en kantoorpartytjies. Hy is by noodlydendes en by die wat fees vier. Hy is by die wat treur die wat lag. Hy is by die wat kniel en die wat dans, op die speelterrein en selfs in die danssaal. God is hier, daar, oral, altyd, onverdund, volledig, Goddelik teenwoordig.

As ons die genade vind om vanuit hierdie werklikheid te leef sal die lewe dalk ietwat makliker verloop. Indien Hy onafskeidbaar deel is van my lewe, as Hy daar is as ek gaan slaap en as ek opstaan, wanneer ek besluite moet neem en wanneer ek my suksesse vier, behoort die lewe anders te verloop.

Nehemia is bekend vir sy skietgebed. Dit is kort, op die man af, geïnspireer deur die uitdagings van die teenswoordige oomblik. Daar is nie tyd vir formulieragtige voorskrifte van hoe gebede behoort te verloop nie, resepmatig, so asof God nie luister as jy nie volgens voorskrif bid nie.

Ek is so dankbaar dat die drie-enige God, Vader, Seun en Gees ver verwyder is bo ons eie kortsigtigheid.

Die onderskrif van dit alles is dat ons Hom nie ken en vertrou nie. Ons beeld van God is steeds die van ʼn veraf, onbetrokke, kwaai en kortgebonde God wat nie kan wag om sy teleurstelling in ons ten toon te stel nie.

Hoe hartseer dat sommige mense met so ʼn verstaan van God moet saamleef. My God, die God van die Bybel is vriendelik, sagmoedig, betroubaar, lankmoedig, vol deernis en begrip. Hy trek sy Vaderhand nooit van my terug nie.

“Wie Hom roem

Wie Hom noem

Heer en Hemelvader

Kom nou almal nader”.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.