ToekomsVenster: God is in die hemel, maar ook naby

(Foto: Stephan Hauman)

“Moenie te gou praat nie, moenie oorhaastig ʼn belofte aan God maak nie, want Hy is in die hemel en jy op die aarde. Laat jou woorde daarom min wees.” – Prediker 5:1 (AFR83)

God is in die hemel en ons is op die aarde. Dit definieer ons verhouding baie duidelik. Terwyl dit so is dat God Drie-enig in ons harte leef en nader aan ons is as ons eie asemhaling, is dit ook so dat God “in die hemel” is en ons “op die aarde”.

“En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is.” – Johannes 17:3

Hy is ewig en misterieus asembenemend, ons is klein, aards en voorspelbaar.

Hy is almagtig, alomteenwoordig, alwetend, alwys; ons is klein, nietig, weglaatbaar en dikwels dom, astrant.

Ons dink ons weet, maar tas soos blindes in die donker rond.

Hy weet alles en weet beter. Ten spyte van ons kleinheid en sterflikheid, het Hy ons onuitspreeklik lief en nooi Hy ons uit tot ʼn verhouding met Hom.

Wanneer ʼn mens dus aan hierdie fenomenale, merkwaardige wese dink wat Homself as die Drie-enige God openbaar, dwing dit respek en agting af.

Hy is nie ons speelmaat nie. Ons kan vriendelik met Hom gesels, maar nie familiêr-voorbarig raak nie. Ons behou ʼn respekvolle afstand in die sin dat ons Hom as die gans-andere eer en aanbid.

Hy is wie Hy sê Hy is, God. Ons is wie ons weet ons is, mense. Daar is ʼn duidelik, kwalitatiewe verskil.

Ons is nie minderwaardig nie. God sien nie op ons neer nie, net soveel as wat ons nie op ander mag neersien nie.

Ons is beelddraers, in alles soos Hy, behalwe dat ons nie Hy is nie. (Lees gerus Psalms 8)

Ons is in Hom en Hy in ons. Hy is naby en ver. Ons moet altyd naby wees.

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.