ToekomsVenster: God is nie kort van draad nie


Liefde-02-Soekie-Krog-Facebook

Foto: Soekie Krog/Facebook.

Dit (die liefde) … is nie kort van draad nie… – 1 Korintiërs 13:5c

Van die ouer vertalings het hierdie gedeelte vertaal deur te sê dat God nie liggeraak is nie. Ons kry tog so maklik seer, want ons is tog so lief vir onsself. Jesus se opsomming van die wet, naamlik dat ons ons naaste so lief moet hê soos ons onsself het, kry nie maklik in ons gestalte nie. God laat egter nie seerkry toe om Sý gedrag te rig wanneer ons Hóm te na gekom het nie, want Sy liefde vir ons is groter as ons foute.

Dit (die liefde) … hou nie boek van die kwaad wat jou aangedoen is nie. – 1 Korintiërs 13:5d

Met hierdie stelling laat Paulus ons dink aan ’n boekhouding, waar skulde aangeteken word en rekenings uitgestuur word. Wanneer God egter terugkyk op ons verhouding met Hom, verduidelik die Bybel dat Hy nie ons sonde van die verlede in berekening bring nie; dat gister en eergister se foute deur die bloed van die Lam uitgewis is; dat Hy nie ons verlede teen ons hou nie! Om die waarheid te sê, Hy onthou nie eens ons gebreke en mistastings nie. Daar is niks met God se geheue verkeerd nie. Hy het gekies om al ons oortredings te vergeet die oomblik wanneer Hy dit vergewe.

Noudat jy die Heilige Gees toelaat om die vrug van die Gees in jou gestalte te laat kry, kan jy ook nie langer by gister en eergister se pyn en seer vertoef nie. Jy kan nie verlede jaar se kwaadword langer saam met jou dra nie. Jy mag ook nie meer ou koeie uit die sloot grawe nie. Jou skepe is verbrand. Daar het vir jou net een toekoms oorgebly – ’n lewe van oorgawe aan jou Here. Laat toe dat Sy liefde binne-in jou groter word as ander mense se foute en tekortkominge.

Praktyk
Kyk vandag na die TV nuus of slaan die koerant oop. In plaas daarvanvom oordeel toe te laat wanneer jy sien waarmee mense besig is, laat goddelike liefde toe om jou te verander in iemand wat sonder ophou bid! Mag God se wil hier by ons in SA geskied soos in die hemel! Mag jou gebede nuwe lewe verseker en lei tot Godgegewe liefde op aarde.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Christine ·

Baie dankie Maroela vir my daaglikse gedagte vir die dag, dis so n’ groot voorreg om my dag op kantoor so te kan begin met stiltetyd.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.