ToekomsVenster: God is regverdig, altyd

(Foto: Antoinette Meyer.)

Lees Psalm 119:137-144:

  • 137 – U is regverdig, Here, wat U bepaal, is reg.
  • 138 – In groot regverdigheid en trou het U u verordeninge uitgevaardig.
  • 142 – U is altyd getrou en regverdig, u wet staan altyd vas.
  • 144 – U verordeninge is altyd regverdig; gee my insig daarin, dat ek kan lewe.

Dit is nie regverdig nie! Ek is seker jy het al die stelling gehoor, waarskynlik meer as een keer. Ek sal nie verbaas wees as die woorde uit jou mond gekom het nie. Trouens, ek het ook al so gevoel en gepraat.

Die wêreld is buitegewoon deurmekaar, daaroor sal min mense verskil. Die onreg neem hand oor hand toe. In die proses is dit onskuldige mense wat dikwels die prys betaal vir die magsbeheptheid en selfsug wat mense met ander agendas aandryf. Dit gaan ʼn mens se verstand te bowe dat sommige mense so boos kan wees.

Die vraag is aan wie se adres rig ons die sug na geregtigheid? Wie is die skuldige en wie moet pa staan vir die onreg wat in hierdie wêreld gepleeg word?

Weereens moet ek bieg dat ek somtyds na die hemel opkyk en vra waarom die Here, wat tog almagtig is, die onreg in hierdie wêreld toelaat en duld.

Waarom gryp Hy nie in nie? Waarom maak Hy nie reg wat verkeerd is nie en laat Hy sy vyande nie boet vir hul verkeerde optrede nie?

Eintlik parkeer ʼn mens jou klag by die Here want met wie anders sal ons dan praat?

Daar is geen eenvoudige antwoorde vir die gebrokenheid op aarde nie. Ons is mense wat die woord van God glo en die teks van vandag verklaar onomwonde dat onreg nie voor God se deur geparkeer kan word nie.

Nie minder as vier keer word die regverdigheid van God beklemtoon. Regverdig in hierdie konteks verwys na sy verordeninge, Woord, bevele, gebooie, m.a.w. sy wet. Die opsomming daarvan is die liefde. As liefde in die harte van mense sou heers sou daar geen onreg gewees het nie.

In God se Woord leer ons Hom ken as die God van Waarheid.

Die teks maak dit duidelik. Wie die verordeninge, woord, bevele van God willens en wetens oortree, staan skuldig. Hulle het geen verweer nie.

Ons kan God ook nie verkwalik as mense teen die waarheid vir die onreg kies nie. Dit bly hulle keuse, ʼn keuse waarvoor hulle uiteindelik die prys sal betaal.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.