ToekomsVenster: God is ryk in barmhartigheid

(Foto: Carolyn V/Unsplash.)

Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. – Efesiërs 2:4

’n Mens gebruik woorde maar verstaan nie altyd die betekenis daarvan nie. Ek blaai in die HAT-woordeboek rond en vind die volgende verduideliking van die woord, barmhartigheid: medelydend, met meegevoel; sag; iemand barmhartig behandel.

Somtyds hoor ’n mens ’n woord ook anders as jy dit in ’n ander taal beluister. In Engels vertaal barmhartigheid as: merciful; forgiving; lenient; gracious; clement; charitable; compassionate; piteous.

Ja, die betekenis moontlikhede van die begrip barmhartigheid is so ryk dat ’n mens ’n boek daaroor kan skrywe.

Die Bybel se vertrekpunt wanneer oor barmhartigheid gepraat word, is God se warm en liefdevolle hart vir sondaar mense.

Ons kan die teks nie lees sonder om te vra waarna die woordjie “maar” verwys nie. Die vorige vers eindig soos volg:

Vanweë ons sondige natuur sou ons net soos die ander mense deur God gestraf moes word. Dit gee aan ons teksvers ryke betekenis. – Efes. 4:3b

Ons verdien inderdaad om vervreem van God te lewe. Immers, dit is die keuse wat die sondige mens maak. Sonde is soos ons al dikwels gesê het rebellie teen God en ’n eiegeregtigheid wat ten hemele skreeu.

“Ek sal self, ek het U nie nodig nie en ek is in staat” is deel daarvan. Net totdat die eerste wesentlike uitdaging kom en ’n mens soos ’n vasgekeerde voëltjie om hulp roep.

Dit is opmerklik dat die naam van die Here so dikwels in krisistye aangeroep word. Ook ongelowige mense roep dan na God.

Ons is almal bekend met die irriterende gebruik van “O, my God”, veral in TV-programme. Dikwels word dit sommer as ’n uitdrukking van oppervlakkige verbasing of iets dergeliks gebruik.

Dit is wat my betref onreëlmatig en ’n verbreking van die gebod wat sê dat ’n mens die naam van die Here nie mag misbruik nie.

Dan weer is daar tonele van gevaar, onsekerheid en trauma waarin die Here se naam aangeroep word. Ek is nie daarvan oortuig dat alle akteurs ’n verhouding met die Here het nie, maar as die onsekerheid dreig word kortpad hemel toe gevat.

Inderdaad, sonder God kan ons niks doen nie. Hy is egter nie ’n noodwiel wat net in krisistye naderby geroep word nie. Hy is inderdaad die God wat ons ten spyte van ons sonde en ongeregtigheid innig lief het. Barmhartig in die volle sin van die woord.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Dankie Here dat U my hart lees…vergewe al my tekortkominge in Jesus Naam.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.