ToekomsVenster: God is steeds daar in donker dae

(Foto: Cherry Laithang/Unsplash.)

Ek bedoel dat, as ek by julle is, ons deur mekaar se geloof bemoedig kan word, ek deur julle s’n en julle deur myne. – Romeine 1:12

In gesprek met Tom Smith verwys Jaco Strydom na die term “nagstukkies”. In metaforiese sin staan dit teenoor “dagstukkies”. Dit is daardie gereelde en welkome stigtelike gedagtes wat ʼn mens op sosiale media ontvang. Veral in hierdie tyd van aanvegting sien ʼn mens dat mense vrymoedig met mekaar deel. Die term nagstukkies is beeldspraak vir dit wat ʼn mens deur donker tye dra. Op ʼn manier sal ons seker kan sê dat ons nou ʼn behoefte aan “nagstukkies” het.

Ek is so dankbaar dat die Bybel so ʼn eerlike boek is. Die volle spektrum van menslike ervaring, worsteling, vertwyfeling, ook sonde is daarin opgeteken. Te midde daarvan loop God se goeie bedoelings met mense en met die skepping soos ʼn goue draad deur alles.

Psalms 130:4 – Maar by U ís daar vergifnis: daarom word U steeds gedien.

In Christus het daar genade gekom en wie hulle daarop beroep vind ʼn liefdevolle God vol van begrip en deernis. Dit is juis ons tekortkominge en worsteling om die regte ding te doen wat ons vul met twyfel en selfverwyt.

Die Psalmdigter het baie daarvan ervaar. Blaai gerus deur die Psalmbundel en vind ʼn gewone mens in die verse. Gewoonlik begin hy met ʼn lofverheffing. Dan beklae hy sy lot. Somtyds sak hy in die diepste van ellende en Godverlatenheid in. Dan herroep hy God se handelinge in die verlede, in die lewe van sy voorgangers, die geskiedenis van Israel maar ook sy eie. Geleidelik breek die lig deur en verdryf die spoke wat hulle so ongenaakbaar aan hom opdring.

Ek vind dat spoke by my wil tuiskom in hierdie tyd van afsondering. Die opwinding van huistakies verrig, by jou gesinslede uitkom, opvang met jou leesprogram en ou foto’s deurkyk raak op die agtergrond.

My gedagtes is lewendig en kuier by gister. Gister het genoeg van sy eie spoke. Dit maak my bang en onseker voel. Ek word oorweldig deur ʼn gevoel van teleurstelling en die introspeksie maak my depressief.

Ek soek na nagstukkies. Die Bybel is daarvan vol. Die skrywers ken ook dié ervaring.

Matt 11:28 – Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.

En jy?

Die geheim is om nie tent op te slaan by jou gisters nie. Die bose het ook daarmee ʼn agenda. Bring dit stuk-stuk vir die Here. Aanvaar sy vergifnis waar van toepassing. My vrou se altyd jy kan nie met die oë agtertoe vorentoe loop nie. Iewers gaan jy val.

Vra die genade om klaar te maak met gister. Maar hanteer dit. Anders bly dit by jou spook.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.