ToekomsVenster: God kan deur jou drome met jou praat


seun-wat-droom

Foto: Nogreaterjoy.org

… Julle oumense sal drome droom. – Handelinge 2:17

Ons drome kan in diens van God wees wanneer Hy met ons wil praat. Deur ons drome kan Hy ons insig gee, lei en waarsku. In Matteus 1:20 het ’n engel vir Josef in ’n droom gewaarsku om nie van Maria te skei omdat sy swanger is nie en hom ook verseker dat die Heilige Gees die Kindjie in haar verwek het. Op dieselfde wyse het ’n engel nogeens in Matteus 2:13 met Josef deur ’n droom gepraat en aan hom bekendgemaak dat die Kindjie sowel as Maria se lewens in gevaar was en dat hulle na Egipte moes vlug.

Alle drome bevat nie noodwendig boodskappe van God nie. ’n Mens weet egter wanneer ’n droom buitengewone betekenis het. Dit is asof so ’n droom jou bybly. Behalwe dat jy nie die droom sal vergeet nie, sal jy ook ervaar dat daar ’n dieper betekenis aan die droom is. ’n Mens behoort in so ’n geval die Here vir die uitleg te vra. Hy sal dit óf aan jou openbaar soos in Josef, Jesus se aardse vader se geval, óf vir iemand anders die uitleg gee, soos in die farao se geval waar Josef van God die uitleg ontvang het.

Ek het al verskeie kere in die middel van die nag wakker geword nadat ek ’n droom gehad het dat iemand in gevaar is. Na ’n uur of twee van intense intersessie vir daardie persoon raak ek gewoonlik weer aan die slaap. Net om na die tyd te hoor waarom daar vir die persoon ingetree moes word.

Onderskei mooi wanneer iemand oor jou droom
Wanneer iemand ’n droom oor jou gehad het, geld dieselfde beginsels wat ook by ander openbarings geld. Vind die droom en uitleg aanklank by jou? Is dit in ooreenstemming met wat God tans aan die doen is in jou lewe? Kan jy die beginsels wat ten opsigte van die droom se uitleg geld in die Bybel vind? Bevestig die Heilige Gees binne-in jou gees dat God aan die woord is?

Miskien het dit tyd geword dat jy jou drome ernstiger begin opneem. Wie weet, dalk wil die Almagtige met jou in jou slaap praat.

Toewydingsoomblik
Is daar ’n droom wat jy nog nooit kon vergeet nie? Vra vir die Heilige Gees om vir jou die uitleg te gee of om vir jou te wys wie vir jou die uitleg sal kan gee.

Gebed
Dankie Here dat U selfs in my drome met my kan praat. Lei my asb. om te kan onderskei wanneer ’n droom van U af is. Amen.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

E. ·

Voor ‘n aanslag op my lewe het ek daarvan gedroom. Ek het ook gedroom dat ek dit sou oorleef en dit is wat my die krag gegee het om te veg. Hoe wonderlik en getrou is onse Here. Dankie God dat U my getroos en gehelp het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.