Toekomsvenster: God kies nie kant nie

(Foto: Ravi Kant/Pexels)

“Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op God gelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ʼn slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.” – Filippense 2:5-7

Soveel mense, soveel idees en oortuigings kom ter sprake. Ons leef in ʼn diverse omgewing waar mense van verskillende agtergronde en oortuigings een ruimte moet deel. Die ruimte is Suid-Afrika waar daar 12 amptelike tale is. Dink maar net aan al die verskillende maniere van dink en doen, wat daar dan in die land is. Hierdie verskil in benaderings word in ons keuse van ʼn kerkverband, politieke party, rugby en sokkerspan, skool, ja selfs inkopiesentra, weerspieël.

Dit is ook elkeen se goeie reg.

Nie alleen voorsien die Grondwet van Suid-Afrika dat alle inwoners van hierdie land daardie ruimte gegun word nie, maar ook die Bybel hou daarmee rekening. Net die wyse waarop God in die lewens van mense werk is daarvan ʼn bewys. Die Here werk uniek in elke mens se lewe.

Ja, die begronding, die kruisdood van Jesus en sy liefde bly die vertrekpunt en tog sê die Bybel: Ek het jou by die naam geroep. Jou naam is in my handpalm geskryf. Ek weet waar jy bly, Ek ken jou uitdagings, Ek hoor hoe klop jou hart, en te midde van en selfs ten spyte van alles, Ek is lief vir jou.

As ek aan die wyse dink waarop mense in Suid-Afrika met mekaar omgaan dink ek aan ʼn bokskryt. Twee opponente neem hul plek in. Ter wille van die skouspelagtigheid daarvan, dalk om self ʼn bietjie moed te skep grom die manne, ja deesdae selfs vroue, vir mekaar.

Die skare is verdeel in lojaliteit. Hulle sentiment draai dikwels ook soos die geveg ontwikkel. Wie eens ʼn held was, word gemaklik amper van die kryt af geboe.

Die atmosfeer is plofbaar, groot manne slaan mekaar – daar is darem reël van wat aanvaarbaar is en wat nie aanvaarbaar is nie – en die skare gaan mal.

Tussen hakies darem, ons eie Dricus du Plessis gedra hom soos ʼn ware heer sonder om sy beginsels prys te gee, maar dit is net terloops.

Teen die einde van die aand bloei beide opponente waarskynlik.

Die een word hande omhoog aangeprys en die ander ervaar vernedering.

Goed, my aksente lê nie noodwendig reg nie maar ek probeer ʼn punt maak.

Dit voel vir my asof ons deurentyd met mekaar baklei.

Ons is nie soekers na die waarheid nie, maar het eienaarskap geneem van ons eie oortuiging en glo dat dit pasklaar uit die hemel gekom het, veral as ons ʼn versie uit die Bybel kan aanhaal.

Die Bybel sê die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie.

Paulus maan die gemeente dat die onderlinge twis nie ʼn goeie prognose het nie.

“Maar julle byt en verskeur mekaar; pas op dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie.” – Galasiërs 5:15 (AFR83)

Uiteraard het ʼn mens jou oortuigings en verstaan van die wêreld, maar so ook het die ander persoon vir wie Jesus eweneens gesterf het ook sy of haar verstaan.

God kies nie kant nie.

“Hierdie groot, magtige en sterk God kies nie kant in hofsake nie en word nooit omgekoop nie.” – Deuteronomium 10:16-17

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.