ToekomsVenster: God maak klaar wat Hy begin het

(Foto: Louis Tricot/Unsplash.)

Fil. 1:6 – Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom.

Die geestelike lewe, trouens ons hele lewe op aarde, is soos ʼn reis. ʼn Reis het ʼn beginpunt en ook ʼn plek waar ʼn mens jou bestemming bereik. Wanneer jy met iemand gesels wat op reis is vra jy tog waar kom julle vandaan en wanneer het julle vertrek? Jy mag selfs vra hoe ver gaan julle reis en hoe lank gaan dit duur? Uiteraard wil jy weet waarheen die persoon op pad is? Jy mag later ʼn oproep maak om uit te vind of die betrokke persoon sy bestemming veilig bereik het? Dit is mos die bekende elemente van op reis wees nie waar nie.

Ons lewe op aarde kan met ʼn reis vergelyk word. Die meeste Christene kan aandui waar en wanneer die reis, geestelike gesproke  begin het. In my eie lewe 26 Januarie 1976 toe die kruisdood van Jesus vir my ʼn werklikheid geword het en ek Hom gevra het om my lewe te verander soos Hy dit wil hê.

Sedertdien is ek met hierdie reis besig en beleef daagliks uitdagings, geleenthede, somtyds is die uitsig belowend en ander kere is ek benoud dat ek die steilte nie gaan uitkom nie. Tog met die Here, deur sy Gees as my navigator en vanweë die vertrouensverhouding tussen ons, oorkom ek die uitdagings en vorder ek elke dag ʼn effens verder.

Die bestemming is die lewe in God se teenwoordigheid in die ewigheid. Ek is nie seker hoe dit lyk en daaruitsien nie, maar Hy sal my nie teleurstel nie. Ek weet dat die bestemming alles gaan wees wat ek gehoop het en soveel meer. Trouens sy Woord sê dit wat ek nog nie gesien het of beleef het is deur die Vader voorberei nie.

Op ʼn ander plek het Jesus belowe dat Hy plek gaan voorberei en wanneer die tyd daar is sal Hy my by Hom neem. Die reis eindig dus in die Vader se huis. Ek verstaan dat die reis dan voortgaan maar op ʼn heel ander wyse. Wanneer die tyd aanbreek sal die Here my wys.

Paulus sê, dieselfde God wat ons op hierdie reis geplaas het sal ons by die bestemming of eindpunt uitbring. Hy het Homself daartoe verbind. Wanneer die bulte steil word, die pad onvriendelik en die gevare groot kan ek myself daaraan herinner dat Hy my nooit aan myself sal oorlaat nie.

Wat Hy begin het maak Hy klaar, ook wat my lewe betref. Is jy al op hierdie reis? Wat is aan die gebeur? Wat val jou op en wat sien jy? Is dit leersaam en sien jy uit na die bestemming?

Onthou egter, die reis is ewe belangrik as die bestemming. Moenie die reis om wens nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.